Wednesday 1 June 2011

WAT SAL EK Sê VAN MY PA?

Wat sal ek sê van my pa?
Hy was baie weg van die huis, nie fisies daar nie -
Tog was hy nader aan my as enigiemand anders op aarde.


Wat sal ek sê van my pa?
Hy was meeste van die tyd besig - toegewyd aan sy taak,
tog nie te besig om bemoeienis met 'n honger boemelaar te maak.


Wat sal ek sê van my pa?
Hy was met geleentheid (en nie net in sy gedagte) ontrou aan sy vrou -
tog was sy ouerhart trouer as meeste wat ek ken of kan onthou.


Wat sal ek sê van my pa?
Hy had vir 'n kort tydjie 'n dors vir 'n sopie
tog het hy sterk gestaan is sy geloof - nooit daarvan gestroop nie.


Wat sal ek sê van my pa?
Hy was onvolmaak soos elke ander geskape wese;
tog was om God te behaag, sy hoogste prioriteit, sy opregte begeerte.


Wat sal ek sê van my pa?
Hy was  my vangnet teen die lewe se swaar -
tog moes hy soms hulpeloos toekyk hoe reuse branders my slaan.


Wat sal ek nog sê van my pa?
Ek was lief vir hom en hy vir my...
uiteindelik is dit die enigste woorde van betekenis vir my.

No comments:

Post a Comment