Thursday 2 June 2011

'n Nuwe Dag

Dis ‘n  nuwe dag; dis ‘n mooi dag;  dit is inderwaarheid sommer ‘n flippin  wonderlike  dag. ‘n Helder, skoon  somersdag in die noordelike voorstede van Kaapstad, Westelike  Provinsie, Suid-Afrika,  Afrika,  Suidelike  half-rond, die wêreld, die  heelal.  ‘n  Unieke  plek, ‘n unieke  oomblik, en  ek  is ‘n unieke mens.

Dis ‘n oggend vol sonskyn, helder blou lug, koel briesie, groen bome, gras-perke, voëls…

Dis ‘n nuwe dag in ons sonnige Suid-Afrika met sy uitdagings, sy diversiteit, sy  baie  tale, kulture, godsdienste, gelowe, sy pragtige natuurskoon, sy Berg wat vandag skoon en majestieus agter my lê.

Dis ‘n dag vol onbekende, onvervulde, ongeredigeerde minute, nuwe moont-likhede, nuwe avonture.  ‘n Dag om nuwe drome te droom;  ou drome te verwesenlik;  nuwe  vriende  te  maak;  met  ou  vriende  te  gesels of te besoek; vreugdes te deel;  ‘n dag  om  ‘n  nuwe  rok  te  gaan  koop; by ‘n onbekende restaurantjie te gaan eet; die  motorwag ‘n  stywe fooitjie te gee met ‘n glimlag daarby; te  gaan  vir ‘n  manikuur; ‘n nuwe lied te sing; ‘n gedig te skryf; ‘n  skrywer te ontdek en ‘n  boek te lees; ‘n berg te klim, ‘n nuwe skildery te begin; ‘n onbekende plek te besoek; na ‘n kunsuitstalling te gaan; ‘n deuntjie te tokkel; ‘n ou fiets op te klim en teen ‘n afdraand af  te  ry; ‘n sieke se hand vas te hou, se voorkop af te vee, se wang te soen; ‘n nuwe produk te probeer; ‘n koek te bak; langs die see te gaan stap; skulpe op te tel; in die son te lê; ‘n roomys te lek; blomme te ruik; a baba se geurtjie te koester, se gladde, nuwe lyfie te troetel…na goeie musiek te luister; ‘n ent in die motor te gaan ry…in die veld te gaan stap.

Dis  ‘n  dag  om  iemand  te  bederf; om  ‘n  glasie  wyn  te skink; die vonkel in iemand se oog te waardeer; om te dans…

Ek vat my hande saam bo my kop, strek my arms na bo,  raak aan die hemel, punt my tone, tol in die rondte, druk my duime en middelvingers saam, draai handpalms na buite, strek … dans, dans voor Hom wat my gemaak het…
Mense  staar    wie gee om? Dit is die enigste kans wat  ek ooit  sal  kry  om hierdie  besondere  dag te beleef,  te geniet,  te gebruik,  te deel,  vol te maak met herinneringe wat ek vir die res van my lewe sal kan oproep.

Hierdie dag skryf ‘n strofe in die ode aan die Alleenwyse…ek sal my klanke voortbring, my nederige bydrae lewer, my  dank uitjubel … want Hy is goed en Sy goedheid strek tot in alle ewigheid….

Hoor jy ook die lied van hierdie dag … dans dan saam met my -  dans, dans…..

No comments:

Post a Comment