Verwoed slaan die weemoedig huilend wind die swaar,
digte sluiers reën, koud soos jou hart, teen ruite,
muur en die reeds nat teerpad vas vanwaar dit spat
vanonder swart voortsnellend motorbande onder skel
weerkaatsend kleure van die neonnag - op pad na waar?
En deur dit alles heen hoor ek die klaend, vraend,
priemend klag van jou moederhart wat ween:
"My seun, my seun..."
Liefdesvrug, vervulling van drome en van hoop
op ewig glorie uit beloftes in die Woord;
oordrag van ons gene;
erfgenaam in kringloop
van ons aardse lewensloop.
Afhanklikheid gekoester in en teen moedershart
in die sagte, warm omhelsing van arms wat jou
hou, toevou en beskutting beloof teen die nag se donkerkou.
Gedagtes aan jou kon 'n glimlag toor
selfs in tye van siekte, smart of wintergrou.
Jy! Die sonlig in moedersdag,
rede om met bruisend lewenskrag die lewe vreugdevol toe te lag,
en met blye vooruitsig die toekoms tegemoet te snel.
Op die bestemde tyd wikkel jy jou uit beskermende omhelsing en half-onwillig,
nareikend word laat gaan dat jy onafhanklik verder kan gaan;
opwindende drome te droom en vervulling daarvan te haal.
Liefderyk en met dawerend applous word jou gang toegelag
terwyl 'n biddend moederhart daagliks hande teen mekaar vou.
"En nou, my kind, en nou...?"
Versplinterd soos 'n stukkend spieël lê baie
lewens in skerwe en weerkaats verwronge, onbegrypend grynsend beelde
gebroke, verslae... in rou - "o God, gee genade vir diè verbrokkeling van trou"...
Daar was 'n gil!
Kil en sonder erbarming die knal van skote wat twee
kindertjies, hand-aan-hand, as wese agterlaat...
'n Dubbel graf, twee kiste, kluite in die mistig, druppend reën...
"My seun...my seun..."
No comments:
Post a Comment