My kleindogter, Melissa, 2 jaar oud, het geskenke ontdek! Presentjies, soos sy sê... pakkies, toegedraai in pragtige, helderkleurige papier, of verpak in mooi geskenksakkies, met lintjies en strikkies. Haar ogies blink sommer wanneer 'n mens 'n geskenkpakkie na haar uithou en die vingertjies word dom in haar ongeduld en haas om daardie papier afgeskeur te kry. Die pragtige prentjies gaan by haar verby wanneer sy koorsagtig probeer om by die inhoud van die pakkie uit te kom... en dan die ekstase en vreugde op daardie gesiggie wanneer sy die nuwe babatjie of beertjie teen haar borsie vasdruk!
Ek is dol oor geskenke... die verrassingselement daaraan verbonde... die nie weet nie... maar veral die vreugde dat dit in iemand se gedagte opgekom het om vir my 'n geskenkie te gee!
Blomme... parfuum... 'n boek... 'n kers... 'n kaartjie met mooi woorde daarin... skryfpapier...'n pen... 'n plant... verf... badskuim... gesigroom, 'n palet of esel... ag, daar is 'n ellelange lys van dinge wat wonderlik is om as geskenke te ontvang en my hart in ekstase te bring omdat iemand iewers omgee.
Daar is partye geskenke wat in my geheue bly vassteek jare, selfs dekades nadat ek dit ont-vang het, soos byvoorbeeld die splinternuwe trapfiets op my veertiende verjaarsdag, toe ek so ongelukkig was omdat my pa nie met my verjaarsdag by die huis sou wees nie... of die warm bokhaarrok in die winter van my sestiende jaar... of die yslike groot Paaseier wat ek van my gewese man ontvang het kort na ons ontmoet het... of die ruiker dofpienk roosknoppe, tussen die donker-groen lower en neutbruin systrik met die boodskap : "God het die mooiste enetjie vir Homself gepluk", wat my jongste sus gestuur het toe onse klein Eloise oorlede is.
Ek onthou een Saterdagoggend in 'n Mei maand, toe ek alleen in my dupleks in die bed was met bronchitis... dit was die naweek wat Moedersdag gevier word... ek was so pap dat ek nie die energie gehad het om op te staan en vir my kos voor te berei nie. Skielik het die klokkie by die hekkie getingel. Ek loer by die kamervenster uit om te sien wie dit is. Daar staan 'n afleweringsman met 'n yslike kartondoos - ongeveer 'n meter en lank - en nuuskierig het ek maar opgestaan, japon omgehang en die hekkie gaan oopmaak.
Blomme vir my! Blomme en nogmaals blomme! Genoeg om 'n vaas vol op die tafeltjies alkant van my bed te sit! Pragtige blomme! Angeliere, swaardlelies, krisante, rose, gypsophilia, varings, en lelies, lelies, en lelies, met net so hier en daar enetjie oopgekelk, met die belofte van nog baie wat met die tyd sou oopmaak en my kamer en lewe sou vul met hul lieflike geur: 'n moedersdag geskenk van my seun in die VSA met 'n briefie vol verlange en liefde daarby.
Wat 'n soet geur versprei liefde! Hoe bemind en gekoester het ek gevoel terwyl die geur van die blomme en die betekenis van sy woorde my lewe verryk het...
Dan is daar geskenke wat 'n mens teleurstel...
Ek onthou 'n Kersfees jare gelede, toe my suster se oudste dogter ook so twee, drie jaar oud was. Sy verjaar op 28 Desember. Daar was sulke pragtige rokkies in die winkelvensters en ek kon nie wag om vir haar sommer 'n paar van hulle te koop om daardie klein lyfie in hulle te sien rondhardloop nie.
Sy was ook baie opgewonde oor die pakkie - tot sy dit oopgemaak het! "Jokkies", sê sy toe, "ag nee, ek ken van jokkies!"
Die feit dat sy nie 'n "r" kon uitspreek het nie haar teleurstelling minder duidelik gemaak nie! Ons kry miskien nie altyd wat ons wil he nie, maar hopelik wat ons nodig het!
Dan is daar die geskenke wat ons amper gekry het...
In Rusland, toe ek so tien jaar gelede daar was, was blomme "groot", volop, en relatief goed-koop. Dit was dan ook 'n gewilde geskenk vir elke geleentheid; selfs ook aan en tussen mans-persone.
Gedurende 'n Paasnaweek was ek en 'n Russiese vriendinnetjie, Irina, in St. Petersburg om al die besienswaardighede te besigtig. Onder andere was ons by 'n spesiale begraafplaas waar russiese kunstenaars begrawe is en het ek die grafte van onder meer Rimski Korsakov en Tsjaikovski ook gesien. Watter groot geskenk was die nalatenskap van hulle musiek nie aan die ganse mensdom nie!
In elk geval, ons ry toe in hierdie bus en reg voor in die bus, tussen die bestuurder en die deur, staan 'n Russiese man met 'n baie groot bos van die pragtigste blomme in sy hand. Blomme trek altyd my aandag en hierdie bos blomme was inderdaad die moeite werd om na te kyk.
Ek was die dag in vervoering oor alles wat ek reeds die naweek gesien en beleef het. Die stad St. Petersburg is baie beslis 'n besoekersparadys met sy historiese argitektuur, kanale, brue, katedrale, standbeelde, sneeu, sypaadjie kafees, en die gees en atmosfeer van mense wat deur die eeue daar gekom en gaan het. Die spesifieke dag was daar ook 'n militere parade op die paradeterrein reg voor die paleis, die naam waarvan ek nou tot my skande nie kan onthou nie, alhoewel dit nog prentjiemooi in my geheue gebrand is.
Die sig van die pragtige bos blomme op die bus was dus soos die spreekwoordelike "kersie op die koek."
Daar is nie baie mense in Rusland wat Engels verstaan of praat nie, en ek se toe grappenderwys vir Irina:
"You see that gentleman with the lovely flowers standing in the front of the bus? Those flowers are in fact for me... wait and see... he will give them to me."
Irina lag klokhelder oor die Suid-Afrikaanse vrou se malligheid en ek let op dat die Russiese heer stip na ons kyk.
Toe dit tyd word vir ons om af te klim, stap ons na die uitgang en toe ons by die man met die blomme kom, se hy in perfekte Engels vir my: "I would love to give you these flowers , but unfortunately it is my wife's birthday today!!!
"Ouch!"
Pity!
Die afgelope ongeveer nege maande was 'n seisoen van ongevraagde, onverdiende seen in my lewe. As ek 'n lys moet maak van al die wonderlike geskenke wat ek gedurende hierdie tydperk van veral my kinders ontvang het, sal dit moeilik wees om te glo!
Dit het my reeds baie vroeg in hierdie seisoen van seen laat besluit dat daar nie 'n dag mag verbygaan waarin ek nie ook iets in iemand anders se lewe saai nie.
Wie weet of die R3 wat ek vir die karwag gee, nie juis die bedraggie is wat dit vir hom moontlik maak om daardie aand vis in plaas van brood te eet nie? Wie weet of die glimlag en paar woorde wat ek met iemand deel, nie die "iets" is wat hom/haar weer hoop gee vir die lewe nie? Wie weet of die liter melk wat jy vir die mamma wat langs die pad sit gee, nie die verskil tussen lewe en dood is vir haar babatjie nie? Die bloed wat jy skenk... die hospitaal besoek wat jy doen...die gebed wat jy opstuur... die kombers vir die bergie...alles kosbare geskenke uit jou hande in iemand anders se lewe...
Moenie ophou nie...dis lekker om te gee en te kan gee...anderdag is dit jou bakhand wat ont-vang!
No comments:
Post a Comment