Saturday 4 June 2011

GEDENKDIENS

Ek sit heel agter in die kerk -
tyd afgeknyp op pad na werk.
Niemand bewus van my teenwoordigheid als dominee wat strak na my bly kyk
asof hy weet hierdie vreemdeling se besoek is buitenstyd.

Die geleentheid is die gedenkdiens na 'n lang, liggaam uitmergelende siekte en die dood
van 'n kennis - nie 'n vriendin, nie eens 'n vennoot
wat ek ontmoet het ongeveer vyf-en-veertig jaar gelede -

En gedurende die tydsbestek van die diens ontvou baie meer
van haar menswees, lewe, geluk, liefdes, prestasies en lyding as waarvan ek
ooit bewus was of kan onthou!

Ek kyk rond na almal wat rou of soos ek, hul laaste eer kom betoon.
Skokkend skielik die wete: ons is nou die uitsterwende geslag.
Deur lewenservarings, sukses en mislukkings gevorm:
wat laat ons na, wat het ons in ons tydvak vermag?

En skielik wonder ek ...
lyk ek ook so oud deur die lens van 'n ander se oog?

No comments:

Post a Comment