Saturday 11 June 2011

OOMBLIKKE VAN GELUK

Guitig, nuuskierig sonstraal steel skelm deur gordyn se spleet,
oopgewarrel deur die lui, lou wind;
gooi speels 'n laserstraal helderlig oor die stil-tevrede gesig
van die kind, op haar maag, op die vloer;
kaalvoet, bene ritmies swaaiend in die lug
waar sy met helder kleure lewe en gestalte kryt
in spasies tussen swart omlynings nou smal,
dan rond, soms nou, dan weer wyd.
Neusvleuels speur die veilig, bekende geure na van krytwas,
kos wat prut, blomgeure wat by die oop deur inglip.

_____________________________________________________________


Pa roep! Ek spring op.
Hy wag buite op die trapfiets en swaai my hoog.
Sit sy arms beskermend weerskante van my en ons ry
deur die veld.
Ek lê terug teen sy bors waar ek sy hart voel klop;
ruik die gras en kruidbos; voel die son op my kop.

Daar's niks wat my kwel.
Somersmiddae - oomblikke van geluk - in die lewe van 'n kind.

No comments:

Post a Comment