Oom Jan en tannie Marinda was broer en suster. Al senior burger status bereik. Hulle het 'n huisie gedeel, of altans, oom Jan het by tannie Marinda in haar huisie op die platteland gewoon.
Die tante het die heerlikste konfyt gekook. Ek onthou eenkeer toe my pa op die dorpie gaan preek het, is ons daar weg met flesse van die heerlikste tamatie-, perske- en druiwekonfyt, asook ingemaakte perskes en pere. Heerlik!
Nou kan ek nie meer so mooi onthou of die tante 'n 'oujongnooi' of weduwee was nie, maar die oom was definitief nooit getroud nie. Hy was 'n lang man, effens geboë, en verstandelik gestremd...wat beteken het dat hy gedurig aandag geverg het... en dit het natuurlik die tante se lewe baie moeilik gemaak.
Dan het hy ook een of twee eienaardighede gehad. As kinders was dit vir ons skreeusnaaks as iemand hom 'n roomys gee, om te sien hoe hy net een happie vat en dan met 'n harde "Sjoe, dit brand!" die roomys gooi dat dit d-a-a-r deur die lug trek!
Kinders kan baie wreed wees...
Hulle was diep gelowige mense en elke Sondag in die kerk, maar dit het altyd 'n spektakel afgegee, want voordat oom Jan enige plek gaan sit het, het hy altyd eers sy spierwit, netjies gevoude sakdoek uit sy broeksak gehaal, en die sitplek oor-en-oor afgestof. Oor en oor. Weer en weer. Dan mik om te gaan sit, dan weer om vlieg om weer van voor af te begin... oor en oor word die sitplek afgevee en dan uiteindelik, op een of ander stadium, sal hy ewe bedees gaan sit en sy onverdeelde aandag toespits op wat voor op die preekstoel gebeur.
O, en trappe klim - dit was nou 'n ander storie. Hy sou die trappies opklim tot bo, omdraai en tot onder klim, 'n oomblikkie staan; omdraai, opklim, weer dieselfde storie... oor en oor, op en af, tot hy later vergeet het of hy van plan was om uit of in te gaan!
Oom Jan het darem altyd sy suster gehelp om die wasgoed op die draad te hang en dit weer af te haal, maar o wee, dit kon partykeer baie lank neem om dit gedoen te kry, want tussen die kombuis en die agterplaas was daar mos vier groen geverfde sement trappies...
Een Maandag het hulle weer die wasgoed na 'n lang gesukkel op die draad gehad. Die wasgoed was egter nog nie droog nie, toe sak daar so 'n ligte reën buitjie uit. Daardie jare het niemand in die land al ooit eers gehoor van tuimeldroërs of "Laundromats" nie. Nou ja, nou moes die wasgoed weer af.
Af en op met die trappies, op en af, vyf maal, ses maal, sewe maal ... en toe wasgoedlyne toe. By hierdie tyd het die tante al die wasgoed afgehaal en in een van daardie groot sinkbaddens gelaai en nou wag sy vir oom Jan om die bad aan die eenkant vas te vat, en sy aan die anderkant, dat hulle die wasgoed in die huis kan kry.
Intussen is albei deurnat gereën.
Uiteindelik het oom Jan die handvatsel in sy hand en stap hulle aan agterdeur toe...natuurlik is daar weer die vier trappies wat eers oorwin moet word. Tant Marinda se geduld is by hierdie tyd ook maar kort, haastig om onderdak en by die kospotte te kom, en oom Jan klim op, draai om, rem af ondertoe, draai om... en toe die oom weer sy voete op die boonste trappie sit, voordat hy weer kan omdraai, gee die tante die bad 'n harde pluk van haar kant af en oom Jan verloor sy balans, en beland binne-in die bad, binne-in die huis!
Stadig, sonder 'n woord, sukkel hy op tot hy weer op sy voete staan, en sê toe: "Ja, vandat die duiwel en die satan saamwerk, doen hulle magtige dinge!"
No comments:
Post a Comment