Wednesday 27 July 2011

ONS VIR JOU SUID-AFRIKA

Soos 'n verflenterde, lankvergete lappop -
     onder jou eie bed ingeprop, of geskop -
          met kledingstukke in jou keel afgedruk en om jou kop gedraai...
               eenkant,    alleen...

Minagtend van jou regte as kind, as mens, ontneem.
Sonder inagneming van ouderdom, ras, kultuur of persoon
is jy prinsessie, brutaal, binne jou ouerhuis onttroon.

Net vier jaartjies oud; jou liggaampie nou grotesk styf en koud:
van jou is geëis die duurste prys te betaal
vir die afgryslike 'eer' om die misdaadstatistiek van die Suid-
Afrikaanse demokrasie te verhaal.

Nkosi 'Sikelele Afrika!

"Diverse volke verenig" ons leuse: die leuen, die tragiek van ons lewe.

Tussen water en elektrisiteit tekort
walm ons alkohol deurdrenkte asems haatspraak
en is die tik van bedwelmde nagtelike ure in rookgevulde 'underground' ons kinders se vermaak.
(Selfs ook diè wat geen tuiste het behalwe die straat)

en ons...

          Ons jaag om uit frustrasie, woede, jaloesie en met frenetiese haas
                 mekaar agteraf te beskinder, te besteel, te bedrieg, te kaap of sommer
                 net 'goedsmoeds' van die gras af te maak!

Rondom ons, dwarsdeur ons wonderskone land,
geprys vir natuur- en politieke wonders - van hoek tot kant
word lewens afgemaai; sterf mense soos vlieë om elke draai,
terwyl polisiemanne berzerk hulself die ewigheid instuur
liewer as om langer die las en stres van die "job" te verduur.
Nog ander wat nie kan oorleef op karige salarispakket (vir die beskerming
van ons burgers, misdaadvoorkoming en handhawing van die wet!)
bestee hul tyd om hul beloning deur afdreiggelde aan te vul en het derhalwe nie
die begeerte of die wil om elke nietige misdaad en  misdaadtoneel deurdag te ondersoek.

Landsburgers se belasting betaal
vir die regte en geleerdheid van die krimineel
in oorvol tronke; hulle wat ons daagliks ons eiendom, eer, veiligheid, en lewens
ontneem,
wyl derduisende kinders van honger of Vigs vergaan en ons kos,
petrolpryse en opvoedkundige isntansies se fooie maandeliks die hoogste pryse
haal - en 'n té klein getal, buite die tronkmure, 'n voldoende opvoeding geniet!

Wyl anargie en loonstakings heers, sit regeringsamptenary, op alle vlakke, sonder
om die nodige dienste te lewer, met bultende sakke vol bonusse en kieste blink-
vet van bedrog in weelde om gelaaide tafels op die 'gravy'-trein en in straler-
tuie vanwaar hulle hulself verdedig as onbekwaam, sonder 'skills', en agterge-
blewe en neem dienooreenkomstig besluite om ons kulturele tradisies, plek- en
straatname, asook ons godsdienstige leer, saam met geregtigheid, wettige huwelike
én ons ongebore babas, te aborteer.

          "Ons sal lewe...
                   Ons vir jou, Suid-Afrika!"

No comments:

Post a Comment