Monday 16 May 2011

VUURHOUTJIE, VLAM, VRIENDIN...

Dankbaar en tevrede met die lewe
sit ek koel-gemaklik in my vel en klere
agter die stuurwiel van my Ford sedan op pad na
Stellenbosch en na jou, my pêl, om saam jou
verjaarsdag te vier.

Dis 'n vreugdevolle okasie ter ere van die lief
en leed van die lewe; van vriendskap, familie en plesier.

Die teerpad sing op die ritme van die wiele saam met die maat van die vuur
onder die enjinkap 'n opgewekte lied.
Ek kyk na die prag van die wit spiraal meesterlik
uitgevoer deur die bosluisvoëls se presisie-vlug
teen die oopgesperde grootsheid van die wolklose, saffierblou, somerslug.
Luid krassend blaker hul van vreugde oor die vryheid
om hoog bo die aarde te mag sweef en baljaar,
sodat hul alles op die grond as 'n prentjie-mooi legkaart
daar ver, doer onder, op die aardbodem ervaar.

Ek dink aan ons vriendskap oor meer as vier dekades in tyd;
veertig jaar, kan jy glo, sonder woede, haat, seermaak of nyd
en ek verwonder my dat ons mekaar telkens by die weersiens dieselfde vind -
gekleurde hare en bont vere - om Vader Tyd se verweer te verskans - tenspyt
en dieselfde warmte ervaar asof ons pal in verbinding is met mekaar.

Hierdie is 'n waarheid : vriendkap is 'n skat, wat, as jy dit
vind, jy moet troetel en koester soos 'n kosbare kind.

Duisend dankies, my maat - ook vir traannat wintersdae
deur jou getroue vriendskap helder en draaglik gemaak!

No comments:

Post a Comment