Ek kry netnou ‘n SMS van ‘n vriendin wat sê: “My man weet dit nie, maar ek is Maandag af en ek kom deur Tygervallei toe … stiek jou vir ‘n etetjie!”
Aa, dis ‘n lekkerte om na uit te sien; ‘n groot lekkerte; sommer ‘n paar lekkertes.
Eerstens omdat dit sy is. Ons is al van kindsdae van tjommies. En dis ‘n hegte vriend-skap wat dekades sonder enige argument deurstaan het.
Tweedens omdat ons mekaar voor Kersfees laas gesien het.
Derdens, omdat ons so min sommer op ‘n weeksdag ‘n bietjie kan wegbreek van die nor-male roetine. Sy werk en woon op Stellenbosch, daardie pragtige Bolandse ‘tuiste van die Maties’ wat so knus tussen die persblou berge lê, en sy bevind haar nie gereeld in die besoedeling van die groot stad nie.
Vierdens, ons gaan ‘n slag alleen kuier sonder haar man (ek is permanent manloos) en dit op sigself is ‘n groot lekkerte. Nie dat dit nie lekker is om saam met hulle te kuier as manlief by is nie – ons is ook baie goeie vriende, maar dis ‘n ander soort lekker!
En laaste, maar nie die minste nie, natuurlik die lekker kos!
Wanneer ons twee bymekaar is, haak ons partykeer net so fyntjies uit… Nou nie sò dat die mense rondom ons wat ons nie ken nie, dit sommer sal agterkom nie, maar darem…
Haar man het drie jaar gelede ‘n beroerte aanval oorleef en alhoewel hy baie goed herstel het in vergelyking met sy toestand onmiddellik na die beroerte, is daar tog blywende mo-toriese, spraak-, en psigiologiese skade.
Wie weet dat as ‘n dierbare fisies ly, ly die hele gesin en huishouding noodwendig saam?
Daar is ‘n verskuiwing van verantwoordelikhede. Die daaglikse roetine in die huishou-ding verander; die sosiale verkeer met vriende word aangepas; die emosionele verhou-ding tussen man en vrou, alhoewel dit mag verinnig, verander van aard en in wese, na gelang van die pasiënt se fisiese behoeftes. Daar is ‘n bykomende afhanklikheid. Sou die pasiënt nie kan terugkeer werk toe nie, verander ook die finansiële opset en daarmee saam die planne vir die toekoms.
Vir diesulkes wat hulle in hierdie omstandighede bevind, is die veranderings na die erva-ring van die aanvanklike intense belewenis van, en bekommernisse rondom, die krisis on-afwendbaar en die keuses daaromheen, beperk.
Wanneer jy, as buitestaander, egter as’t ware deur die vensters van die buitekant na hulle lewens kyk, is die veranderings dramaties om te aanskou.
“For better or for worse” kry nuwe betekenis.
Dis hoekom ek soms ‘n eetdingetjie regkry, in die motor laai en die muggie se snoet in die rigting van Matieland draai.
Dan oorreed ek my maatjie om weer al die ou liedjies wat ons twee altyd saam gesing het op die klavier te speel en alhoewel ons stembande skielik eers moet afgestof word voor ons die hoë note daar bo-op die rak kan raakvat, is ons weer jonk en onbesonne en vlieg die aand soos in ‘n oomblik verby, terwyl lig en klank weer uit die groot, gerieflike dubbelverdieping huis stroom.
Ons lag vir onsself en vir mekaar en vergeet van die sorge van die hier en nou.
En ons ryg die vertellings oor ons dierbare, beeldskone, volmaakte kinders en geniale, beeldskone, hiper-aktiewe kleinkinders soos snoere kosbare pêrels en dra dit met trots en ‘n selfvoldaanheid en verwonder ons dat ons, wat nog sò jonk is, self nog so beeldskoon, geniaal en dinamies is, se kinders al kinders het… wat het tog van die jare tussenin geword?
Of ons gaan drink ‘n teetjie in die Botaniese Tuine en, verskuil agter groot struike, sit ons op ‘n randsteen langs ‘n wandelpaadjie en ons huil saam oor dit wat ons verloor het… en loer darem so met die een oog of ons nie dalk vir Valiant Swart hier iewers gewaar nie...
Wanneer ek dan die muggie se snoetjie terugdraai op die spoor na Tafelberg, is die tafe-reel van ons lewens nouer verweef as ooit.
Inbox: “Ek kannie waggie!”
Reply: “Ek okkie – sien jou Maandag!”
No comments:
Post a Comment