Saturday, 14 May 2011

Besoek aan 'n ouetehuis

‘N BESOEK AAN ‘N OUETEHUIS
 

Party se koppe lê na een kant gekantel op hulle willose arms, oë oop, starend. Ander sit en slaap met koppe wat op die bors hang, asof hulle pas die tydelike met die ewige verwissel het. ‘n Ouma sit en brabbel en kyk met verwagting om ‘n reaksie, enige reaksie, van enigiemand te kry.

Diè honger na menslike interaksie in haar oë bring my tot stilstand, maak my hartseer, stom, sodat ek net saggies aan haar skouer raak en omdraai na ‘oupa’ wat stomstil op sy rolstoel voor hom sit en uitstaar met sy vingers op sy knieë oopgesply. As ek hom roep, kyk hy vraend op. Hy hoort nie hier tussen die halfdooies nie. Ek hoort nie hier nie…
 
Ek voel ‘n benouing soos ‘n watervloed in my binneste opstoot sodat ek daarin wil stik. Buite is dit lente. Die spreeus rinkink op die grasperk voor die tehuis tenspyte van die tragiese vertoon van verval van die menslike anatomie en noodwendig gepaardgaande verlies aan menswaardigheid hier binne op die rolstoele, rondom plastiektafels vol plastiekbekers in die ‘sonkamer’ waar die son net vir ‘n kort rukkie elke dag ‘n helder streep gooi. In die hoek van die vertrek kerm ‘n ouma. Het sy pyn of teken sy net haar beswaar aan teen die uitloop van haar uurglas? Langs ‘n ander muur bulder ‘n kolos van ‘n man sy aggressiwiteit uit teen die gevangenis van afhanklikheid waarin beroerte hom ongevraag gekerker het. In die bleekgroen gang skuifel ‘n middeljarige man soos ‘n groot krap moeisaam sywaarts met behulp van twee kieries.

Ek moet selfbeheersing toepas om nie verby hom te druk en in die gang af te hardloop nie. Soveel menslike lyding…Die verpleegpersoneel beweeg uiterlik skynbaar onaangeraak tussen die inwoners deur. Gee hier ‘n bietjie water, gesels daar ‘n woordjie…

So gou as beleefd moontlik vlug ek tog die gang, ‘Langstraat’ soos ma dit noem, af na haar kamer onder in die hoek aan die voorkant van die gebou.  Ek groet en kyk vlugtig by haar kamervenster uit na die pragtige rotstuine, roosbome in volle blom, blou lug daarbuite. Haal ‘n paar maal diep asem. Diep asemteue wat my neus vul met die skerp reuk van ontsmettingsmiddels en urine wat vanaf die gang ingewalm kom. Sug. Draai terug na ma in die kamer. Die kamer is ruim, skoon en netjies. Nuwe enkelbed, nuwe matras, bedkassie. Halfmaan embuia-hout tafeltjie teen die muur met ‘n vaas vol plastiese rose daarop. Plastiese rose wat al vir dertig jaar saam met haar trek, selfs van voor sy en ‘oupa’ ge-troud is.

Voor die venster staan ‘n kassie met die televisiestel op. By die voetenent van die bed staan die yskassie met die mikrogolf oond daarop. Aan die oorkant ‘n gemaklike leunstoel en skinkbord-tafeltjie. Ek wonder skielik of ons persepsie van die lewe nie dalk net so rooskleurig as die plastiese rose is nie – en dalk net so kunsmatig?

Ma sit en geniet die vars gebakte vis en aartappelskyfies wat ek gebring het. Daar wag ‘n wiggie suurlemoentert vir nagereg. Op die tafel staan ‘n bak vrugte. Op die mikrogolfoond ‘n flessie met vrugtegeur suiglekkers en ‘n plak sjokolade, ‘n blik Game koeldrankpoeier, haar pille volgens dosisse vir daaglikse gebruik verpak. Haar pantoffels lê langs die bed, ‘n skoon handdoek en waslap hang oor die reëling, ‘n ligte kombers is oor die voetenend van die bed gedrapeer; daar is ‘n paar tydskrifte in die tydskrifrakkie. Teen die een muur is ‘n vergroting van oorlede oupa en ouma met hul twaalf kinders – ma en haar ses broers en vyf susters. Teen die ander muur is die foto’s van al haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders – haar hele wêreld, vyf geslagte, in een vertrek saamgevat.

Eintlik het sy niks meer, of baie min, om haar oor te bekommer; nie veel meer om te doen nie; geen belangrike besluite meer om te neem nie… baie herinneringe om op te roep… 

Sy het baie gewig verloor die afgelope paar jaar, maar lyk goed vir haar sewe-en-tagtig jaar en vertoon steeds statig in haar wit, geplooide romp, plat wit leerskoene, smaraggroen kortmou baadjie, met die silwer en pêrel borsspeld op die lapel vasgespeld, en haar netjies gekapte haarstyl. Sy is bewerig en kla oor haar senuwees wat op hol is. Sy hoor nie meer goed nie; kan nie meer lank lees nie; sien nie meer goed nie; het geen ander belangstellings nie. Haar huis en tuin was altyd haar lewe en haar trots.

Haar aandete word om halfvyf smiddae na haar kamer gebring. As sy klaar geeët het, was sy haarself in die wasbak in die hoek, trek nog self haar klere uit en nagklere aan, hou stiltetyd, bid vir elke kind, kleinkind en agterkleinkind by naam. Dan kyk sy na 7de Laan en luister daarna na Radio Tygerberg tot presies halfnege. Daarna drink sy haar twee Ativans en warm melk en sit om presies 9.15nm die bedliggie af.

Sy kla dat die personeel haar pla wanneer hulle in die nag die toorts in haar kamer skyn. Die lig van buite pla haar, die geraas van die verkeer pla haar, die radio wat aan is in die kamer oorkant hare pla haar. Die kos is sleg, haar klerekas is te klein, haar wasgoed raak weg en die kerkdienste in die groot sitkamer is baie vervelig en oninteressant.
 
 Nadat ma die die suurlemoentert geëet het, neem ek haar haartangetjie, pluk haar wenk-broue. Ek is versigtig om nie haar kapsel deurmekaar te krap nie. Sy weet self nie hoe sy met haar natuurlike styl, grys hare sal lyk nie – sy het dit nog nooit gesien nie. Ek pluk al die lastige hare op haar bolip, haar ken, haar kakebeen uit, smeer gesigroom mildelik oor haar gesig. Sy het nog nooit grimering of naellak gedra nie – dit is te wêrelds.  Haar hande versorg sy self. Nou week ons haar voete in die voetspa wat sy vir haar verjaarsdag gekry het en droog hulle saggies af. Ook tussen die tone. Dan lê sy bo-op die bed met haar kop op haar nekkussinkie waarsonder sy nie aan die slaap kan raak nie, want anders is haar hare môre deurmekaar.  Haar voete rus op een van haar kopkussings. Pienk kussingsloop. Alles in die kamer is beige, sagte pienk, sagte salie groen.  Ek krap saggies die soolvratte onder haar voete af, sny haar toonnaels, kerf die liddorings (sy dra nog steeds haar hoëhak, punt skoene wanneer sy kerk toe of op besoek gaan), rasper die groottoon knobbels en die hakke met die puimsteen. Ek soek ‘n pleistertjie vir die knobbeleelt in die bedkassie se laaitjie en kom af op ‘n dosie sinustablette.

“En diè? Van wanneer af het ma moeite met ma se sinusse?”
“Nee, dis wonderlike tablette daardie. Tannie Nel het my daarvan vertel. Dit maak nie saak waar ek ‘n pyn het, of hoe neerslagtig of gespanne ek voel nie. As ek net ‘n halwe sinustablet drink, selfs net ‘n kwarte, dan voel ek gou-gou weer honderd persent!”
Geloof, o geloof, watter wonderlike ding!

"Kom ons smeer die voete en bene met die lekkerruik lyfroom…  Aa, klaar!"
 
Noudat sy versorg is, raak sy ongeduldig dat ek moet gaan – al probeer sy dit wegsteek… sy is uitgeput van al die aandag en wil terugkom in haar eie roetine en aangaan met haar dag. Ek maak eers gou seker dat die klere wat sy vir more uitgesit het, skoon is.
“Nou-ja, ma, dan gaan ek eers.”
“Ja, dankie vir al jou moeite, my kind, dankie, dis al wat ek kan sê. Daai twee paar skoene wat ons laasweek gekoop het - ek wil dit nie hê nie. Ek het dit weggegee. Ek het gedink as jy Saterdag kom dan gaan soek ons ander skoene en ons gaan drink ‘n koppie tee iewers…”
Ai, en my bloeddruk is alreeds so hoog…
“Ma moet mooi bly. Ek sal oormôre weer kom kuier.”
“Ag, so lank nog!”
Ek stap uit na my nuwerwetse duifblou motortjie. Die enjin vuur met die eerste draai van die sleutel, die musiekie in die laserskyfspeler begin outomaties speel waar dit laas opgehou het; die lugreëling begin saggies suis. Ek sit haar in rat, trap die versneller, gooi ‘n sierlike draai voor ek die pad vat huistoe … dit bly lekker om te lewe!

                                   Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks….








No comments:

Post a Comment