Thursday 26 May 2011

Nog 'n dag

Die oggendblad het vanoggend met groot opskrif  aangekondig dat die 2010 Matrieks  vandag  hulle uitslae te sien sal kry…’n waterskeidingsoomblik vir baie wanneer hulle deurstap na die studentelewe of grootmenswêreld  waarin hulle op hulself aangewese sal wees  vir hulle daaglikse brood – dis nou te sê as  hulle  so gelukkig  is om ‘n betrekking  te  bekom.  Vir ander sal dit groot teleurstelling,  miskien selfs  wanhoop, inhou.  Een  jong  vriendinnetjie  wat deur moeilike tye gegaan het  hierdie jaar,  se  ma  het  nou net jubelend  laat weet dat  sy  vrystelling  vir  universiteit  het! Nou    die  toekoms oop voor haar!

Padsterftes op  ons  land se paaie is steeds ‘n bron van uiterste bekommernis. Mense van alle ouderdomme word van hul lewens beroof.

Vloedwaters, asgevolg  van aanhoudende reën, eis  vyf  lewens  in Kwazulu-Natal, en ‘n dogtertjie van net ses jaar oud  verdrink  toe  sy probeer om haar sussie van vier te red. Waar was hulle ouers op daardie oomblik?

Die Bloemhofdam  in die Vaalrivier oorstroom  en  miljoene  rande se skade word  vir die tweede  agtereenlopende  jaar aan talle eiendomme veroorsaak. Hoekom het  niemand  behoorlike navorsing gedoen voordat die eiendomme in die eerste plek ontwikkel is nie?

Gister was die hoogste grade in ons land  aangeteken 42 grade C. in Vreden-dal en die Paarl, Kaapprovinsie. Aardverhitting is meer as ‘n mite.

‘n ANC-hoë se stoflike oorskot is in ‘n bos in Bosbokrand  gevind, nadat  hy  vermoedelik  by  sy  huis deur drie mans oorval is.  Daar  word beweer  hy is verskeie kere geskiet. Ek wonder altyd of dit werklik as die maklikste uitweg gesien word wanneer iemand ‘n moord pleeg.

Nog ‘n man verdrink in die Strand.
 

‘n Foutiewe  valhek by ‘n spooroorgang  veroorsaak ‘n ongeluk. Die motoris is gelukkig om die ongeluk te oorleef.

‘n Renosterkalfie wat einde verlede jaar verdwyn het nadat sy ma in ‘n mis-daad strooptog doodgemaak is, is steeds weg en alhoewel vermoed word dat hy steeds in die  Mafikeng wildreservaat is, kon hy nog  nie opgespoor  word nie. Hoekom sê ons nie “toe sy ma vermoor is deur stropers” nie?

Jacques  Kallis  teken  twee  honderdtalle  aan  in die  derde toets  teen Indië. Sekerlik is hy een van  Suid-Afrika se helde, indien  nie ikone…en definitief iets vir die skonergeslag (hoekom skoner?) om na te kyk…

Drie ouens wat skelm kreef gestroop en na Amerika uitgevoer het, gaan mil-joene  moet  opdok  aan Suid-Afrika vir hul eiegeregtige, kwaadwillige stro-ping van ons seewaters.

‘n Suid-Afrikaanse aktrise word  in  Djakarta, Indonesië, met dwelms betrap en in hegtenis geneem. Wanneer gaan ons leer?

‘n  Amerikaanse  student  het  haar enkel verstuit op Tafelberg en word deur reddingswerkers  op ‘n  draagbaar afgedra na veiligheid.  Sy sal die Berg om meer as een rede onthou.

Internet sal  vanaf 1 Mei 2011 dwarsoor Afrika in vliegtuie beskikbaar wees. Sodat ons  nog  langer  werksure  kan  insit?  Nog minder afskakel van al die dinge wat ons stresvlakke opjaag?

Volgens Open Doors het  die  posisie van Christene wat in die minderheid is in Moslemlande die afgelope jaar baie versleg. Soos gewoonlik hoor ons nie ‘n ‘piep’ uit Christene oor hierdie toedrag van sake nie. Is dit omdat ons ‘die ander wang draai’? Of omdat ‘die liefde alles glo, alles bedek’?

Daar was ‘n  bloedbad in Egipte… herinner  aan die tyd toe die Nyl  in bloed verander het?

Vloede  in  Australië  het ‘n ongekende  skaal  bereik  en  bedreig  die  Groot Koraalrif, terwyl 22 stede en dorpe in Queensland onder water is.
 
Bobby  Farrell, die  hoofsanger  van  Boney M  is oorlede  asgevolg  van  ‘n harttoestand. Sy lyk is  in sy hotelkamer  in St. Petersburg,  Rusland, gevind.

St. Petersburg is ook  die plek waar Tjaikovski en Rumski Korsikov begrawe lê.  Hulle grafte is nog steeds te sien  in ‘n baie ou begrafplaas vir al die Russiese kunstenaars.

Die  Skotse sanger, Gerry Rafferty, sterf  aan  lewerversaking. Hy  was maar 63 jaar oud.

In  Frankryk  is ‘n nuwe  motorradio bekend  gestel wat spoedlokvalle, goed-koper petrol  pryse  en  gratis parkeerplek  vir motoriste  kan opspoor, en kan bel terwyl jy musiek luister. Ek hou van die spoedlokval opsporingsgedeelte. Dit verraai baie omtrent my bestuursgewoontes…

En, en, en…. Dwarsoor die wêreld het elke dag genoeg van sy eie kwaad en darem ook  so  hier  en  daar ‘n  wonderwerkie  of twee wat geskied. ‘n Kind wat gebore word; iemand wat 100 jaar oud word; 60 jaar getroude lewe vier; ‘n nuwe  uitvindsel  wat  ons  almal  se lewens  beinvloed of  hoop  bring vir mense wat andersins net op die dood sit en wag… mense wat na weke onder in ‘n myn gered word…maar meeste  van  die  tyd verloop  ons  lewens  baie eentonig (mooi woord)  aan…dag vir dag… uur vir uur… sodat  ons  nie ag-terkom dat ons uurglas stadig, so stadig,  besig is om deur te loop en ons dae iewers afgetel word en besig is om voltallig te word.

“Three score plus ten… and if you are very strong 80 years”…

Toe  tel  ek  mos  nou die dag: dan het ek ongeveer 2000 dae oor – dis nou as ek tel tot by die “three score plus ten” – skielik  wil ek die horlosie se wysers vasgryp; daaraan hang – sê: “Hei, wag net so ‘n bietjie, maatjies, daar  is nog baie  wat  ek  wil doen. Julle moet nou nie staan en weghol vir my nie… Ho-kaai! Briek aandraai!” Maar hulle steur hulle min!

Nou  sit ek  vanaand  hier op die stoep van ‘n oorvol restaurant, op diè warm Kaapse   someraand,  op ‘n  houtbankie,  langs  ‘n   houttafeltjie,  oorkant  ‘n blonde man met ‘n Namakwalandse sin vir humor en ‘n  snor  waarin die sil-


wer  blink in die lig.  Hy’t ook al,  soos ek, ‘n paar myl gestap deur die lewe; sy drome  gedroom; sy  keuses  gemaak; sy  planne  beraam; sy  mislukkings betreur; sy  suksesse gevier; sy verdriet geleef; sy  foute  oorleef; sy toekoms bedink.

Maar  vanaand sit ons hier. Op die restaurant se vol stoep. Borde geurige kos voor ons.  Hy  lig  sy  hand  van  die  tafelblad… ek sit  my  hand  daarin,  sy vingers  maak  toe, sy    ook  en hy dank die Hoërhand vir dit wat ons  nou  gaan geniet… en  vir nou is hierdie oomblik en God  se  seën op hierdie bord kos vir my genoeg.




No comments:

Post a Comment