Saturday 21 May 2011

Maak toe jou oë...

Maak jou mond toe oor 'n happie yskoue, ryp waatlemoen...
skarlaken rooi...mals en soet soos die passievolste soen.
Voel die gladde, pikswart pitte parmantig
tussen jou tande rondspring.

Sit 'n oomblikke stil, adem die geur in, kou stadig verder;
proe die krummelrige tekstuur sponsig op jou tong.
Steun behaaglik terwyl die suikersap teen jou ken aftap...
mmm... sluk die koel behaaglikheid en voel dit stadig afsak...

Kom ons neem hierdie keer 'n ryp, goudgeel peer.
Voel die saggeel skilletjie weerbarstig skeur terwyl
die pikante smaak en geur jou mond en neusgate vul;
ervaar - en verwonder jou aan die verskil.

Of probeer 'n tot-barstensvol korrel druif  persrooi mooi;
laat dit tussen jou pruilende lippe tot in jou mond gly
hierdie heerlikte vanuit die wonderskone, vrugbare Franschhoek vallei.
Proe die son, die reën, Suid-Ooste wind en groeikrag uit die grond.
Rol dit tussen jou tande rond tot die sap uit die krakende dop pars -
die vonkelvars geur van nuwewyn: somer, sonlig, dans en lag!

Wat van die swaarder, donker persswart geur
van satynglad, saggeronde bessies, pragtig geskakeer
wat skaamteloos jou verhemelte, tong en lippe vlek?
Die stroperige, soet nageur wat jou nog lank jou lippe laat lek?

Kosbare verrykende sintuig van ons bestaan
om te proe - 'n gratis genotvolle gawe uit God se hand -
As ons dalk in die toekoms, deur aardverwarming en tegnologie gedwing
in plek daarvan aan pilletjies kou, sal ons onthou en
verlang om hierdie heerlikhede weer te mag beleef.

Geniet hierdie dag; geniet die nou -
oes kosbare herinneringe wat vir altyd hou!

No comments:

Post a Comment