Sunday 8 January 2012

Lila-may, die tuinfeetjie

Dis skemer aand - dit begin nou  donker word, want die son het reeds ondergegaan.

Melissa sit op die trappie by die voordeur en kyk hoe baljaar die drie honde op die grasperk. Tyler en Zoë is worshondjies; Tyler, die reuntjie of seuntjie hond, is swart en Zoë, die tefie of meisie hond is bruin. Caley is 'n groot, pikswart Deense hond en hy is baie mooi en kan baie vinnig hardloop. Melissa en mamma en pappa is baie lief vir hulle honde en die honde pas hulle almal baie mooi op. As daar iemand by die hekkie is, laat die honde dadelik vir hulle weet deur hard te blaf en na die hek te hardloop.

Melissa roep vir Zoë en sy kom gehoorsaam na haar aangehardloop op haar kort bakbeentjies. Wanneer sy by Melissa kom, steek Melissa haar hand uit om aan Zoë te vat en Zoë lek liefderik aan Melissa se vingertjies voordat sy langs haar op die trappie gaan lê. Zoë sug tevrede wanneer Melissa haar vingers deur die kort, reguit hare op haar ruggie trek. Sy maak eintlik haar ogies bot toe om diè lekkerte te geniet.


'n Rukkie sit die tweetjies so stil en dan sit Zoë meteens regop met gespitste oortjies. Sy het iets gehoor...
Melissa ook... sy is seker sy het iemand saggies hoor lag. Sy kyk vinnig rond, of sy vir mamma iewers sien, maar daar is niemand!



Sy luister weer aandagtig - daar, sy het dit weer gehoor! So 'n klokhelder, rinkelende laggie... amper soos  die geluid wat die windklokkies maak wanneer die wind deur hulle waai.

Zoë vlieg vinnig regop, trap van die trappie af en begin in die rigting van die geluid draf, koppie effens skeef gedraai. Sy beweeg in die rigting van die blombedding naby die swembad, en staan dan stil en luister.

Nou is alles weer stil... behalwe vir die gesnork en geproes van Caley & Tyler wat nog op die grasperk speel.

Melissa staan ook op en loop agter Zoë aan. Zoë het intussen tot by die bedding geloop en druk haar spitsneusie onder die lang, groen blare van 'n agapant plant in en snuif-snuif asof sy op die spoor is van iets wat in die donker onder die blare op die grond beweeg.

Dan is daar 'n skielike  wr.r.r.r.r.... beweging van fyn vlerkies en woerts vlieg iets tussen Zoë en Melissa deur! Melissa gaan sit plat op haar boudjies op die paadjie langs die bedding. Haar grys-groen ogies is amper so groot soos pierings van verbasing. Zoë gee sulke fyn kef-blaffies en spring al in die rondte van opgewondenheid.

Melissa vryf haar ogies met haar vuisies. "Het sy dit regtig gesien of het sy nie", wonder sy.

Mamma kom by die voordeur uit.

"Bad tyd, Melissa", roep sy, "waar is jy?"

Melissa spring op: "Mamma, mamma, ek het nou net 'n feetjie in die tuin gesien" babbel sy opgewonde, terwyl sy na haar mamma toe hardloop.

"Regtig pop? Waar?" vra mamma.

"Hier tussen die blare van die plante mamma", sê sy. "Nou kom ons kyk gou of ons haar weer kan vind", sê mamma met 'n glimlag.

Hand aan hand loop hulle op hulle tone terug na die plante. Melissa sit haar vingertjie voor haar mond en beduie saggies vir mamma: "Sjt". Sy skud haar blonde koppie heen en weer dat haar bokstertjie so swaai om mamma te laat verstaan dat sy nie hard moet praat en die feetjie wegjaag nie. Hulle lig versigtig die blare een vir een op en loer oral tussen hulle rond, maar hulle sien net 'n paar klein, swart miertjies wat nog haastig heen-en-weer skarrel om genoeg kossies in hul huisie in te dra en een bruin kewertjie wat sy vlerkies wegvou en hom regwoel om die nag rustig in 'n knus hoekie tussen die plantwortels te kan deurbring.

Die grond ruik lekker want Esegiël het laatmiddag die grond tussen die plante omgeskoffel en daarna het die besproeiing stelsel al die plante natgespuit en druppeltjies water klou nog soos pêreltjies aan party van die plante se blare.

"Ai, dis nou jammer", sê mamma, "kom, ek dink jy en sussie moet nou eers gaan bad. Ons sal môre weer kyk of ons dalk die feetjie kan sien".

Gou-gou is Melissa en haar babasussie, Jeneè, in die bad omring met hul helderkleurige speelgoed vissies, emmertjies en skulpies en dit is 'n prettige gelag en gespat van water soos die tweetjies hulleself in die water geniet. Jeneè sit in 'n spesiale sitplekkie sodat sy nie kan omval in die water nie en mamma en pappa hou 'n ogie oor die tweetjies.

Maar Melissa se gedagtes dwaal kort-kort af en dan dink sy weer aan die feetjie... sy kom nie eers agter toe mamma haar gesig, oortjies en nek was nie...

Nou babbel sy weer opgewonde oor die pragtige feetjie met fyn, blink vlerkies wat selfs in die halfdonker geskitter het met al die blink reënboogkleure! Sy wens dis al môre dat sy weer na haar kan gaan soek.

Dan borsel sy eers gou haar tandjies. Pappa droog hulle mooi af, trek hulle nagkleertjies aan en Mamma sit vir Jeneè  in haar bababedjie met 'n bottel lekker, louwarm melk. Wanneer die melk op is, is sy vas aan die slaap en in droomland.

Pappa gaan sit by Melissa op haar bedjie in haar kamer en lees vir haar die storie van Babalela... o sy hou so baie van hierdie storie, dat sy dit amper al woord vir woord uit haar kop uit ken!

Dan, wanneer hulle klaar gelees het, en Klaasvakie klaar sy sandjies in haar ogies gestrooi het, bid sy en pappa eers en dan deel sy en pappa en mamma drukkies en soentjies en word sy snoesig toegemaak. Haar laaste gedagte is aan die feetjie wat sy môre wil gaan soek... Haar ogies is reeds toe en voor sy haar kom kry is sy in feetjieland en baljaar sy saam met die feetjies tussen die blomme en plante rond. Sy glimlag in haar slaap...

No comments:

Post a Comment