Friday 27 January 2012

LILA-MAY, DIE TUINFEETJIE - 2

Vroeg die volgende oggend word Melissa wakker en glip saggies uit die bed. Sy hardloop na die venster en trek die gordyne met haar twee handjies weg van mekaar om te kyk of sy nie die feetjie in die tuin kan sien nie, maar nee... sy sien niks wat beweeg nie, behalwe die voëltjies wat besig is om wip-wip te beweeg om hul kos-huisie, wat in die boom naby die voorhekkie hang, en hul voëlsaadjies op te pik. Hulle snaweltjies beweeg rats op en af soos hulle seker maak dat hulle genoeg kossies in hul kroppies het om ook hul kleintjies wat in die nessies wag te gaan voed. Sy en mamma het gisteragtermiddag laat die bakkie om die voël-huisie weer vol gemaak sodat daar vanoggend genoeg vir al die honger voëltjies sal wees.

Net toe kom mamma by die kamerdeur in: "Môre, môre, Melissa", sê mamma, "het jy lekker geslaap?"

"Ja, dankie mamma" antwoord Melissa toe sy die gordyne los en terugdraai na mamma. "Kan ons vanoggend asseblief na die feetjie gaan soek?" vra sy.

"Nee, ongelukkig nie vanoggend nie, my skat", sê mamma. "Kom ons trek gou jou kleertjies aan en dan kan jy jou ontbyt eet voordat julle skool toe gaan".

Mamma het gou-gou vir haar 'n pragtige rokkie en mooi sandale op haar bed neergesit en toe sy aangetrek is, tol sy plesierig in die rondte dat haar haartjies en haar rokkie so swaai. Sy is baie lief vir rokkies.

Sy hardloop voor mamma uit na die kombuis, waar mamma vir haar ontbytvlokkies in haar bakkie skep en dan gaan sit sy in die eetkamer by haar eie tafeltjie om te eet, terwyl mamma gou seker maak dat haar en sussie, Jeneè, se sakke met skoon uitrustings en ander benodigdhede vir die dag gereed is om saam te neem skool toe.

Terwyl sy badkamer toe stap om haar gesiggie te was en haar tandjies te borsel kom Maggie in die gang afgestap. "More, Melissa, hoe gaan dit?" "Goed dankie, Maggie", antwoord sy voordat Maggie deur stap kombuis toe met haar bakkie en bekertjie om dit saam met die ander ontbytborde in die skottelgoedwasser te pak. Mamma borsel haar haartjies en sit vir haar haarrekkies met pragtige pienk gesiggies in haar bokstertjies.

Pappa is reg om hulle na die kleuter- en bewaarskool te neem en hulle stap by die agterdeur uit waar die honde stertkwispelend vir hulle wag om ook môre te sê.

"Stadig, Caley," waarsku pappa, toe Caley in sy gretigheid amper vir Melissa van haar voete af hardloop.
By die motor groet mamma hulle al drie met soentjies en drukkies en klim sy ook in haar motor om werk toe te ry.

By die skool aangekom, wag  Barry reeds vir Melissa by die hek met 'n groot glimlag op sy gesiggie. Hy is haar beste maatjie van die eerste dag af dat hulle by die skool is. Hulle groet met 'n drukkie, bly om mekaar weer te sien. Dan gaan hulle in om die ander maatjies en juffrou Janine te groet.

Gou-gou speel hulle sorgeloos in die sandput. Dit is 'n gejoel en gewoel en 'n geraas en gelag van 'n ander wêreld soos die maatjies rondhardloop en speel. Af en toe huil enetjie wanneer 'n toontjie gestamp word of tweetjies per ongeluk in mekaar vashardloop en dan is een van die juffrouens gou-gou by met 'n wattetjie en 'n pleister en  'n glimlag en 'n sagte woordjie van troos om die seerplekkie vinnig reg te toor.

Dan lui die klokkie.   Ting - e - ling - e - ling; ting - e - ling - e - ling... en juffrou roep: "Kom, gou maatjies, kom sit vinnig in 'n ry - dis broodjie tyd!"

Dadelik laat die maatjies alles los en spaander na juffrou toe. Vinnig gaan sit hulle 'n lang ry. Melissa en Barry sit langs mekaar en kyk verwagtend op na juffrou wat met die skinkbord broodjies van die een kant af begin en al met die ry af beweeg om seker te maak dat elke kind 'n lekker kaas en ham toebroodjie kry.

"Dis lekker", sê Barry. Melissa se kop skud instemmend op en af. Haar mondjie is te besig om te eet om nou te praat.

Namiddag moet hulle eers 'n bietjie op hul matrassies gaan rus. Dis gou stil wanneer die maatjies een na die ander aan die slaap raak.

Na die slapie het hulle skaars tyd om hul vrugte te eet en sap te drink, dan hoor hulle die eerste mammas en pappas  aankom om hulle die een na die ander te kom haal. Melissa hardloop met oop arms na mamma toe en wanneer mamma buk, spring sy binne haar arms in om eers gou 'n drukkie te kry, voor mamma vir Jeneè ook gaan haal.

Op pad huistoe sit Melissa terug en mamma sit vir haar die storie van Nemo in die speler sodat sy 'n bietjie na die pragtige, ratse, slim vissie kan kyk en rustig raak. Sy hou Jeneè se handjie vas terwyl hulle ry en sy sien uit daarna om by die huis te kom en met haar speelgoed te speel voor aandete en badtyd  en miskien ... miskien... sien sy vanaand weer die tuinfeetjie as sy baie saggies in die tuin gaan rondkyk...

No comments:

Post a Comment