Labels

Showing posts with label Vir die kleinspan. Show all posts
Showing posts with label Vir die kleinspan. Show all posts

Friday, 27 January 2012

LILA-MAY, DIE TUINFEETJIE - 2

Vroeg die volgende oggend word Melissa wakker en glip saggies uit die bed. Sy hardloop na die venster en trek die gordyne met haar twee handjies weg van mekaar om te kyk of sy nie die feetjie in die tuin kan sien nie, maar nee... sy sien niks wat beweeg nie, behalwe die voëltjies wat besig is om wip-wip te beweeg om hul kos-huisie, wat in die boom naby die voorhekkie hang, en hul voëlsaadjies op te pik. Hulle snaweltjies beweeg rats op en af soos hulle seker maak dat hulle genoeg kossies in hul kroppies het om ook hul kleintjies wat in die nessies wag te gaan voed. Sy en mamma het gisteragtermiddag laat die bakkie om die voël-huisie weer vol gemaak sodat daar vanoggend genoeg vir al die honger voëltjies sal wees.

Net toe kom mamma by die kamerdeur in: "Môre, môre, Melissa", sê mamma, "het jy lekker geslaap?"

"Ja, dankie mamma" antwoord Melissa toe sy die gordyne los en terugdraai na mamma. "Kan ons vanoggend asseblief na die feetjie gaan soek?" vra sy.

"Nee, ongelukkig nie vanoggend nie, my skat", sê mamma. "Kom ons trek gou jou kleertjies aan en dan kan jy jou ontbyt eet voordat julle skool toe gaan".

Mamma het gou-gou vir haar 'n pragtige rokkie en mooi sandale op haar bed neergesit en toe sy aangetrek is, tol sy plesierig in die rondte dat haar haartjies en haar rokkie so swaai. Sy is baie lief vir rokkies.

Sy hardloop voor mamma uit na die kombuis, waar mamma vir haar ontbytvlokkies in haar bakkie skep en dan gaan sit sy in die eetkamer by haar eie tafeltjie om te eet, terwyl mamma gou seker maak dat haar en sussie, Jeneè, se sakke met skoon uitrustings en ander benodigdhede vir die dag gereed is om saam te neem skool toe.

Terwyl sy badkamer toe stap om haar gesiggie te was en haar tandjies te borsel kom Maggie in die gang afgestap. "More, Melissa, hoe gaan dit?" "Goed dankie, Maggie", antwoord sy voordat Maggie deur stap kombuis toe met haar bakkie en bekertjie om dit saam met die ander ontbytborde in die skottelgoedwasser te pak. Mamma borsel haar haartjies en sit vir haar haarrekkies met pragtige pienk gesiggies in haar bokstertjies.

Pappa is reg om hulle na die kleuter- en bewaarskool te neem en hulle stap by die agterdeur uit waar die honde stertkwispelend vir hulle wag om ook môre te sê.

"Stadig, Caley," waarsku pappa, toe Caley in sy gretigheid amper vir Melissa van haar voete af hardloop.
By die motor groet mamma hulle al drie met soentjies en drukkies en klim sy ook in haar motor om werk toe te ry.

By die skool aangekom, wag  Barry reeds vir Melissa by die hek met 'n groot glimlag op sy gesiggie. Hy is haar beste maatjie van die eerste dag af dat hulle by die skool is. Hulle groet met 'n drukkie, bly om mekaar weer te sien. Dan gaan hulle in om die ander maatjies en juffrou Janine te groet.

Gou-gou speel hulle sorgeloos in die sandput. Dit is 'n gejoel en gewoel en 'n geraas en gelag van 'n ander wêreld soos die maatjies rondhardloop en speel. Af en toe huil enetjie wanneer 'n toontjie gestamp word of tweetjies per ongeluk in mekaar vashardloop en dan is een van die juffrouens gou-gou by met 'n wattetjie en 'n pleister en  'n glimlag en 'n sagte woordjie van troos om die seerplekkie vinnig reg te toor.

Dan lui die klokkie.   Ting - e - ling - e - ling; ting - e - ling - e - ling... en juffrou roep: "Kom, gou maatjies, kom sit vinnig in 'n ry - dis broodjie tyd!"

Dadelik laat die maatjies alles los en spaander na juffrou toe. Vinnig gaan sit hulle 'n lang ry. Melissa en Barry sit langs mekaar en kyk verwagtend op na juffrou wat met die skinkbord broodjies van die een kant af begin en al met die ry af beweeg om seker te maak dat elke kind 'n lekker kaas en ham toebroodjie kry.

"Dis lekker", sê Barry. Melissa se kop skud instemmend op en af. Haar mondjie is te besig om te eet om nou te praat.

Namiddag moet hulle eers 'n bietjie op hul matrassies gaan rus. Dis gou stil wanneer die maatjies een na die ander aan die slaap raak.

Na die slapie het hulle skaars tyd om hul vrugte te eet en sap te drink, dan hoor hulle die eerste mammas en pappas  aankom om hulle die een na die ander te kom haal. Melissa hardloop met oop arms na mamma toe en wanneer mamma buk, spring sy binne haar arms in om eers gou 'n drukkie te kry, voor mamma vir Jeneè ook gaan haal.

Op pad huistoe sit Melissa terug en mamma sit vir haar die storie van Nemo in die speler sodat sy 'n bietjie na die pragtige, ratse, slim vissie kan kyk en rustig raak. Sy hou Jeneè se handjie vas terwyl hulle ry en sy sien uit daarna om by die huis te kom en met haar speelgoed te speel voor aandete en badtyd  en miskien ... miskien... sien sy vanaand weer die tuinfeetjie as sy baie saggies in die tuin gaan rondkyk...

Sunday, 8 January 2012

Lila-may, die tuinfeetjie

Dis skemer aand - dit begin nou  donker word, want die son het reeds ondergegaan.

Melissa sit op die trappie by die voordeur en kyk hoe baljaar die drie honde op die grasperk. Tyler en Zoë is worshondjies; Tyler, die reuntjie of seuntjie hond, is swart en Zoë, die tefie of meisie hond is bruin. Caley is 'n groot, pikswart Deense hond en hy is baie mooi en kan baie vinnig hardloop. Melissa en mamma en pappa is baie lief vir hulle honde en die honde pas hulle almal baie mooi op. As daar iemand by die hekkie is, laat die honde dadelik vir hulle weet deur hard te blaf en na die hek te hardloop.

Melissa roep vir Zoë en sy kom gehoorsaam na haar aangehardloop op haar kort bakbeentjies. Wanneer sy by Melissa kom, steek Melissa haar hand uit om aan Zoë te vat en Zoë lek liefderik aan Melissa se vingertjies voordat sy langs haar op die trappie gaan lê. Zoë sug tevrede wanneer Melissa haar vingers deur die kort, reguit hare op haar ruggie trek. Sy maak eintlik haar ogies bot toe om diè lekkerte te geniet.


'n Rukkie sit die tweetjies so stil en dan sit Zoë meteens regop met gespitste oortjies. Sy het iets gehoor...
Melissa ook... sy is seker sy het iemand saggies hoor lag. Sy kyk vinnig rond, of sy vir mamma iewers sien, maar daar is niemand!



Sy luister weer aandagtig - daar, sy het dit weer gehoor! So 'n klokhelder, rinkelende laggie... amper soos  die geluid wat die windklokkies maak wanneer die wind deur hulle waai.

Zoë vlieg vinnig regop, trap van die trappie af en begin in die rigting van die geluid draf, koppie effens skeef gedraai. Sy beweeg in die rigting van die blombedding naby die swembad, en staan dan stil en luister.

Nou is alles weer stil... behalwe vir die gesnork en geproes van Caley & Tyler wat nog op die grasperk speel.

Melissa staan ook op en loop agter Zoë aan. Zoë het intussen tot by die bedding geloop en druk haar spitsneusie onder die lang, groen blare van 'n agapant plant in en snuif-snuif asof sy op die spoor is van iets wat in die donker onder die blare op die grond beweeg.

Dan is daar 'n skielike  wr.r.r.r.r.... beweging van fyn vlerkies en woerts vlieg iets tussen Zoë en Melissa deur! Melissa gaan sit plat op haar boudjies op die paadjie langs die bedding. Haar grys-groen ogies is amper so groot soos pierings van verbasing. Zoë gee sulke fyn kef-blaffies en spring al in die rondte van opgewondenheid.

Melissa vryf haar ogies met haar vuisies. "Het sy dit regtig gesien of het sy nie", wonder sy.

Mamma kom by die voordeur uit.

"Bad tyd, Melissa", roep sy, "waar is jy?"

Melissa spring op: "Mamma, mamma, ek het nou net 'n feetjie in die tuin gesien" babbel sy opgewonde, terwyl sy na haar mamma toe hardloop.

"Regtig pop? Waar?" vra mamma.

"Hier tussen die blare van die plante mamma", sê sy. "Nou kom ons kyk gou of ons haar weer kan vind", sê mamma met 'n glimlag.

Hand aan hand loop hulle op hulle tone terug na die plante. Melissa sit haar vingertjie voor haar mond en beduie saggies vir mamma: "Sjt". Sy skud haar blonde koppie heen en weer dat haar bokstertjie so swaai om mamma te laat verstaan dat sy nie hard moet praat en die feetjie wegjaag nie. Hulle lig versigtig die blare een vir een op en loer oral tussen hulle rond, maar hulle sien net 'n paar klein, swart miertjies wat nog haastig heen-en-weer skarrel om genoeg kossies in hul huisie in te dra en een bruin kewertjie wat sy vlerkies wegvou en hom regwoel om die nag rustig in 'n knus hoekie tussen die plantwortels te kan deurbring.

Die grond ruik lekker want Esegiël het laatmiddag die grond tussen die plante omgeskoffel en daarna het die besproeiing stelsel al die plante natgespuit en druppeltjies water klou nog soos pêreltjies aan party van die plante se blare.

"Ai, dis nou jammer", sê mamma, "kom, ek dink jy en sussie moet nou eers gaan bad. Ons sal môre weer kyk of ons dalk die feetjie kan sien".

Gou-gou is Melissa en haar babasussie, Jeneè, in die bad omring met hul helderkleurige speelgoed vissies, emmertjies en skulpies en dit is 'n prettige gelag en gespat van water soos die tweetjies hulleself in die water geniet. Jeneè sit in 'n spesiale sitplekkie sodat sy nie kan omval in die water nie en mamma en pappa hou 'n ogie oor die tweetjies.

Maar Melissa se gedagtes dwaal kort-kort af en dan dink sy weer aan die feetjie... sy kom nie eers agter toe mamma haar gesig, oortjies en nek was nie...

Nou babbel sy weer opgewonde oor die pragtige feetjie met fyn, blink vlerkies wat selfs in die halfdonker geskitter het met al die blink reënboogkleure! Sy wens dis al môre dat sy weer na haar kan gaan soek.

Dan borsel sy eers gou haar tandjies. Pappa droog hulle mooi af, trek hulle nagkleertjies aan en Mamma sit vir Jeneè  in haar bababedjie met 'n bottel lekker, louwarm melk. Wanneer die melk op is, is sy vas aan die slaap en in droomland.

Pappa gaan sit by Melissa op haar bedjie in haar kamer en lees vir haar die storie van Babalela... o sy hou so baie van hierdie storie, dat sy dit amper al woord vir woord uit haar kop uit ken!

Dan, wanneer hulle klaar gelees het, en Klaasvakie klaar sy sandjies in haar ogies gestrooi het, bid sy en pappa eers en dan deel sy en pappa en mamma drukkies en soentjies en word sy snoesig toegemaak. Haar laaste gedagte is aan die feetjie wat sy môre wil gaan soek... Haar ogies is reeds toe en voor sy haar kom kry is sy in feetjieland en baljaar sy saam met die feetjies tussen die blomme en plante rond. Sy glimlag in haar slaap...