Labels

Showing posts with label Skets. Show all posts
Showing posts with label Skets. Show all posts

Sunday, 25 March 2012

ROOMYS IN DIE SNEEU IN MOSKOU



Deur die venster van die piepklein kombuisie van die gemeubileerde eenslaapkamer woonstel op die 15de vloer in die noordelike voorstede van Moskou, Rusland, sit ek en verlustig my in die gesig van die sneeu wat daarbuite val en soos witsuikerkorrels buite op die vensterbank pak.

Sjoe! Dis pragtig! Oorkant die straat, in “my” park, lê die sneeu ook reeds wit op die winterkaal gestroopte takke van die mirte bome en kan ek sien hoedat die Russe in hul pelsjasse die paadjies moddertrap op pad na die Richnoi Vaxhall Metro Stantsi ("Rivier Stasie" Metrostasie).

Wat 'n belewenis om dit te mag aanskou! Maar ek wil dit nie net sien nie – ek wil dit op my gesig voel...

Die woonstel het verhitting (alhoewel die eienares die temperatuur binne die woonstel maar koel tot matig hou, hoor!), maar buite is dit volgens die termometertjie wat aan die buitekant van die kombuisvenster hang, so minus 23 grade Celcius! Dus...

Eers broekiekouse... dan “longjohns” - jul weet mos, daai lang, wit onderbroek affêre – wat kan nou meer onvroulik wees - dan sokkies, langbroek, frokkie, langmou toeknoop bloes, lekker dik Suid-Afrikaans gebreide trui, en dan my Russiese jas... en natuurlik ook pels gevoerde stewels en handskoene... en laastens, maar nie minder belangrik... 'n lekker dik pelsmus wat ek oor my ore trek.
Nou is ek gereed vir die sneeu.

Af met die hysbak, tot in die “foyer”, waar die Russiese “baboeshka” my met 'n stywe kopknik groet en 'n aantekening in die boek op haar lessenaar maak... Ek wonder wat sy skryf? Teken sy my uit? Miskien as “Protestant Missioner ot Uznie Afrika”? Of anders Elizaveta Blaauw? Wie sal weet? Ek glimlag vir haar, maar sy ignoreer my glimlag toetentaal... die Russe dink maklik jy het 'n skroef los as jy “onnodig” glimlag of lag!

Wanneer ek die deur na die straat oopstoot, tref die ysige lug my en dit voel letterlik asof ek 'n vrieskas binne gaan. Ek dink op daardie oomblik terug aan my kinderjare toe my ouers onderskeidelik “kamp sekretaris” en “kampkok” was gedurende ons 10 dae Kers-kerkkamp en ek daagliks gestuur is na die groot inloop-yskamer om die groente en vrugte vir my ma te gaan uithaal wanneer sy maaltye berei.

Maar nou, hierdie oomblik, pak die opwinding my beet. In hierdie koue lug, met die sneeu wat op my gesig val, is ek meteens weer 'n kind - vol energie en lewens- en avontuurlus! Die bloed bruis warm deur my are onder al die lae klere en ek moet myself keer om nie hardop te lag en die straat af te hardloop met my arms in die lug nie... wat 'n wonderlike, bevrydende gevoel om so in die sneeu rond te loop. Wanneer ek “my” parkie bereik buk ek om aan die water in die dam te raak, net om uit te vind dat daar reeds oornag 'n yslagie bo-op gevorm het. Nou wat nou van die arme visse? Gelukkig is hulle koudbloedig, dus sal hulle verseker onder die laag ys oorleef!

Die mossies, waarvan daar miljoene in Rusland is, het meesal reeds ge-emigreer na warmer lande, maar so hier en daar sit daar nog enetjie op 'n sneeubelaaide kragdraad! Poskaartprentjie mooi! Soos Kerskaartjie prentjies - behalwe dat die Russe nie tradisioneel Kersfees vier nie - alhoewel hulle darem Nuwejaarsdag vier op 7 januarie en dan is daar 'n reuse Kersboom en Kersvader op die Rooiplein by die Kremlin!

Ek stap aan deur die park en anderkant uit – nou is ek op 'n baie besige straat met motors wat heen-en-weer toeter met hulle spesiale bande vir die yspaaie. Teen hierdie tyd voel die punt van my neus, asook my ken en wange asof ek pas 'n hewige sessie by die tandarts deurstaan het! Yskoud en morsdood gevries en oral is mense besig om wolkies warm asem voor hulle uit te blaas so ver soos hulle loop.

In Rusland is sulke koue wintersdae algemeen – werk en besigheid gaan aan soos gewoonlik en die busse en metro's is soos elke ander dag baie bedrywig. Hier wag jy nie langer as drie minute vir enige metro trein nie en busse is daar by die dosyne!

By die markstalletjies voor die ingang van die metro stansi is dit 'n modderpoel van 'n ander wêreld soos die duisende voete die metrostasie ingaan en uitkom en die sneeu vertrap. Hier en daar sien jy iemand gly en plat op sy/haar rug val, maar niemand neem notisie of verleen hulp nie, want dit is 'n algemene, daaglikse verskynsel en gebeur een of ander tyd met almal, veral as dit een dag 'n bietjie minder koud is en die sneeu wil-wil smelt en dan die volgende dag, wanneer dit weer kouer is, weer verys – dan is dit so glad soos nat glas en moet jy baie versigtig trap! Jy staan maar net op en stap aan as jy so ongelukkig is om te val , en as jy regtig ongelukkig is, val jy more dalk weer!

Die baboeshka's (oumas) wat hulle wares vanuit die stalletjies of vanaf kratte op die sypaadjies verkoop, sit koulik vooroor met gevoude arms en wag vir hulle klante.

Ek sien sowaar nog 'n roomys verkoper! Wonder hoe sal 'n roomys smaak op so 'n koue dag? Daar is net een manier om uit te vind... 'n Russiese heer skud meewarig sy kop en sirkeldraai sy vinger langs sy regteroor om aan sy vriend te beduie net hoè mal hierdie vreemde vrou is wat in die sneeu loop en roomys eet, maar die roomys gaan heerlik koel af in my lyf wat so warm toegebondel is in die lae klere... ek glimlag vir hom en stap aan! Ai, waar is my kinders nou om hierdie petalje te aanskou?

Wednesday, 20 July 2011

TRAGIKOMEDIE

Oom Jan en tannie Marinda was broer en suster. Al senior burger status bereik. Hulle het 'n huisie gedeel, of altans, oom Jan het by tannie Marinda in haar huisie op die platteland gewoon.

Die tante het die heerlikste konfyt gekook. Ek onthou eenkeer toe my pa op die dorpie gaan preek het, is ons daar weg met flesse van die heerlikste tamatie-, perske- en druiwekonfyt, asook ingemaakte perskes en pere. Heerlik!

Nou kan ek nie meer so mooi onthou of die tante 'n 'oujongnooi' of weduwee was nie, maar die oom was definitief nooit getroud nie. Hy was 'n lang man, effens geboë, en verstandelik gestremd...wat beteken het dat hy gedurig aandag geverg het... en dit het natuurlik die tante se lewe baie moeilik gemaak.

Dan het hy ook een of twee eienaardighede gehad. As kinders was dit vir ons skreeusnaaks as iemand hom 'n roomys gee, om te sien hoe hy net een happie vat en dan met 'n harde "Sjoe, dit brand!" die roomys gooi dat dit d-a-a-r deur die lug trek!

Kinders kan baie wreed wees...

Hulle was diep gelowige mense en elke Sondag in die kerk, maar dit het altyd 'n spektakel afgegee, want voordat oom Jan enige plek gaan sit het, het hy altyd eers sy spierwit, netjies gevoude sakdoek uit sy broeksak gehaal, en die sitplek oor-en-oor afgestof. Oor en oor. Weer en weer. Dan mik om te gaan sit, dan weer om vlieg om weer van voor af te begin... oor en oor word die sitplek afgevee en dan uiteindelik, op een of ander stadium, sal hy ewe bedees gaan sit en sy onverdeelde aandag toespits op wat voor op die preekstoel gebeur.

O, en trappe klim - dit was nou 'n ander storie. Hy sou die trappies opklim tot bo, omdraai en tot onder klim, 'n oomblikkie staan; omdraai, opklim, weer dieselfde storie... oor en oor, op en af, tot hy later vergeet het of hy van plan was om uit of in te gaan!

Oom Jan het darem altyd sy suster gehelp om die wasgoed op die draad te hang en dit weer af te haal, maar o wee, dit kon partykeer baie lank neem om dit gedoen te kry, want tussen die kombuis en die agterplaas was daar mos vier groen geverfde sement trappies...

Een Maandag het hulle weer die wasgoed na 'n lang gesukkel op die draad gehad. Die wasgoed was egter nog nie droog nie, toe sak daar so 'n ligte reën buitjie uit. Daardie jare het niemand in die land al ooit eers gehoor  van tuimeldroërs of  "Laundromats" nie. Nou ja, nou moes die wasgoed weer af.

Af en op met die trappies, op en af, vyf maal, ses maal, sewe maal ... en toe wasgoedlyne toe. By hierdie tyd het die tante al die wasgoed afgehaal en in een van daardie groot sinkbaddens gelaai en nou wag sy vir oom Jan om die bad aan die eenkant vas te vat, en sy aan die anderkant, dat hulle die wasgoed in die huis kan kry.

Intussen  is albei deurnat gereën.

Uiteindelik het oom Jan die handvatsel in sy hand en stap hulle aan agterdeur toe...natuurlik is daar weer die vier trappies wat eers oorwin moet word. Tant Marinda se geduld is by hierdie tyd ook maar kort, haastig om onderdak en by die kospotte te kom, en oom Jan klim op, draai om, rem af ondertoe, draai om... en toe die oom weer sy voete op die boonste trappie sit, voordat hy weer kan omdraai, gee die tante die bad 'n harde pluk van haar kant af en oom Jan verloor sy balans, en beland binne-in die bad, binne-in die huis!

Stadig, sonder 'n woord, sukkel hy op tot hy weer op sy voete staan, en sê toe: "Ja, vandat die duiwel en die satan saamwerk, doen hulle magtige dinge!"

Friday, 24 June 2011

Geskenke

My kleindogter,  Melissa,  2 jaar oud, het geskenke ontdek!  Presentjies,  soos sy sê... pakkies, toegedraai in pragtige,  helderkleurige papier, of verpak in mooi geskenksakkies,  met lintjies en strikkies. Haar ogies blink sommer wanneer 'n mens 'n geskenkpakkie na haar uithou en die vingertjies word  dom in haar  ongeduld en haas om daardie  papier afgeskeur te kry.  Die pragtige  prentjies gaan by haar verby wanneer sy  koorsagtig  probeer om  by die  inhoud  van  die pakkie uit te kom... en  dan  die ekstase en vreugde op daardie gesiggie wanneer sy die nuwe babatjie of beertjie teen haar borsie vasdruk!
Ek is dol oor geskenke...  die  verrassingselement daaraan verbonde...  die  nie  weet  nie...  maar veral die vreugde dat dit in iemand se gedagte opgekom het om vir my 'n geskenkie te gee!
Blomme... parfuum... 'n boek... 'n kers... 'n kaartjie met mooi woorde daarin... skryfpapier...'n pen... 'n plant... verf... badskuim... gesigroom, 'n  palet  of  esel... ag,  daar  is  'n  ellelange lys  van  dinge wat wonderlik  is  om as geskenke te ontvang en my hart in ekstase te bring omdat iemand iewers omgee.
Daar is partye geskenke wat in my geheue  bly  vassteek jare,  selfs  dekades nadat ek  dit ont-vang het, soos byvoorbeeld die splinternuwe trapfiets op my veertiende verjaarsdag, toe ek so ongelukkig was omdat my pa nie met my verjaarsdag by die huis sou wees nie... of die  warm bokhaarrok in die winter van my sestiende jaar... of die yslike groot Paaseier wat ek van my gewese man ontvang het kort na ons ontmoet het... of die ruiker dofpienk roosknoppe, tussen die donker-groen  lower  en  neutbruin  systrik  met die boodskap :  "God  het  die  mooiste  enetjie vir Homself gepluk", wat  my jongste  sus gestuur  het toe onse klein Eloise oorlede is.
Ek onthou een Saterdagoggend in 'n Mei maand,  toe  ek  alleen  in  my dupleks  in die bed was met bronchitis... dit was die naweek wat Moedersdag gevier word... ek  was  so  pap dat ek nie die energie gehad het om op te staan en vir my kos voor te berei nie.  Skielik  het  die  klokkie  by die hekkie getingel. Ek loer by die kamervenster uit om te sien wie dit is.  Daar staan 'n afleweringsman met 'n yslike kartondoos  -  ongeveer 'n meter en lank  -  en nuuskierig het ek maar opgestaan, japon omgehang en die hekkie gaan oopmaak.
Blomme vir my! Blomme en nogmaals blomme!  Genoeg om  'n vaas vol op die  tafeltjies  alkant  van my bed te sit!  Pragtige blomme! Angeliere, swaardlelies, krisante, rose, gypsophilia,  varings,  en lelies, lelies,  en lelies, met  net so hier en daar enetjie oopgekelk,  met die belofte van nog  baie  wat met die tyd sou oopmaak en my kamer en lewe sou vul met hul lieflike geur: 'n moedersdag geskenk van my seun in die VSA met 'n briefie vol verlange en liefde daarby.
Wat 'n soet geur versprei liefde!  Hoe bemind en gekoester het ek gevoel terwyl die geur van die blomme en die betekenis van sy woorde my lewe verryk het...
Dan is daar geskenke wat 'n mens teleurstel...
Ek onthou 'n Kersfees jare gelede, toe my suster se oudste dogter ook so twee,  drie jaar oud was. Sy verjaar op 28 Desember.  Daar was sulke pragtige rokkies in die winkelvensters en ek kon nie wag om vir haar sommer 'n paar van hulle te koop om daardie klein lyfie in hulle te sien rondhardloop nie.
Sy was ook baie opgewonde oor die pakkie - tot sy dit oopgemaak het! "Jokkies", sê sy toe, "ag nee, ek ken van jokkies!"
Die feit dat sy nie 'n "r" kon uitspreek het nie haar teleurstelling minder duidelik gemaak nie! Ons kry miskien nie altyd wat ons wil he nie, maar hopelik wat ons nodig het!
Dan is daar die geskenke wat ons amper gekry het...
In Rusland, toe ek so tien jaar gelede daar was, was blomme "groot", volop, en relatief goed-koop. Dit was dan ook 'n gewilde geskenk vir elke geleentheid; selfs ook aan en tussen mans-persone.
Gedurende 'n Paasnaweek was ek en 'n Russiese vriendinnetjie, Irina, in St. Petersburg om al die besienswaardighede te besigtig. Onder andere was ons by 'n spesiale begraafplaas waar russiese kunstenaars begrawe is en het ek die grafte van onder meer Rimski Korsakov en Tsjaikovski ook gesien. Watter groot geskenk was die nalatenskap van hulle musiek nie aan die ganse mensdom nie!
In elk geval, ons ry toe in hierdie bus en reg voor in die bus, tussen die bestuurder en die deur, staan 'n Russiese man met 'n baie groot bos van die pragtigste blomme in sy hand. Blomme trek altyd my aandag en hierdie bos blomme was inderdaad die moeite werd om na te kyk.
Ek was die dag in vervoering oor alles wat ek reeds die naweek gesien en beleef het. Die stad St. Petersburg is baie beslis 'n besoekersparadys met sy historiese argitektuur, kanale, brue, katedrale, standbeelde, sneeu, sypaadjie kafees, en die gees en atmosfeer van mense wat deur die eeue daar gekom en gaan het. Die spesifieke dag was daar ook 'n militere parade op die paradeterrein reg voor die paleis, die naam waarvan ek nou tot my skande nie kan onthou nie, alhoewel dit nog prentjiemooi in my geheue gebrand is.
Die sig van die pragtige bos blomme op die bus was dus soos die spreekwoordelike "kersie op die koek."
Daar is nie baie mense in Rusland wat Engels verstaan of praat nie, en ek se toe grappenderwys vir Irina:
"You see that gentleman with the lovely flowers standing in the front of the bus? Those flowers are in fact for me... wait and see... he will give them to me."
Irina lag klokhelder oor die Suid-Afrikaanse vrou se malligheid en ek let op dat die Russiese heer stip na ons kyk.
Toe  dit tyd word vir ons om af te klim, stap ons na die uitgang en toe ons by die man met die blomme kom, se hy in perfekte Engels vir my: "I would love to give you these flowers , but unfortunately it is my wife's birthday today!!!
"Ouch!"
Pity!
Die afgelope ongeveer nege maande was 'n seisoen van ongevraagde, onverdiende seen in my lewe. As ek 'n lys moet maak van al die wonderlike geskenke wat ek gedurende hierdie tydperk van veral my kinders ontvang het, sal dit moeilik wees om te glo!
Dit het my reeds baie vroeg in hierdie seisoen van seen laat besluit dat daar nie 'n dag mag verbygaan waarin ek nie ook iets in iemand anders se lewe saai nie.
Wie weet of die R3 wat ek vir die karwag gee, nie juis die bedraggie is wat dit vir hom moontlik maak om daardie aand vis in plaas van brood te eet nie? Wie weet of die glimlag en paar woorde wat ek met iemand deel, nie die "iets" is wat hom/haar weer hoop gee vir die lewe nie? Wie weet of die liter melk wat jy vir die mamma wat langs die pad sit gee, nie die verskil tussen lewe en dood is vir haar babatjie nie?  Die bloed wat jy skenk... die hospitaal besoek wat jy doen...die gebed wat jy opstuur... die kombers vir die bergie...alles kosbare geskenke uit jou hande in iemand anders se lewe...
Moenie ophou nie...dis lekker om te gee en te kan gee...anderdag is dit jou bakhand wat ont-vang!

Thursday, 2 June 2011

'n Nuwe Dag

Dis ‘n  nuwe dag; dis ‘n mooi dag;  dit is inderwaarheid sommer ‘n flippin  wonderlike  dag. ‘n Helder, skoon  somersdag in die noordelike voorstede van Kaapstad, Westelike  Provinsie, Suid-Afrika,  Afrika,  Suidelike  half-rond, die wêreld, die  heelal.  ‘n  Unieke  plek, ‘n unieke  oomblik, en  ek  is ‘n unieke mens.

Dis ‘n oggend vol sonskyn, helder blou lug, koel briesie, groen bome, gras-perke, voëls…

Dis ‘n nuwe dag in ons sonnige Suid-Afrika met sy uitdagings, sy diversiteit, sy  baie  tale, kulture, godsdienste, gelowe, sy pragtige natuurskoon, sy Berg wat vandag skoon en majestieus agter my lê.

Dis ‘n dag vol onbekende, onvervulde, ongeredigeerde minute, nuwe moont-likhede, nuwe avonture.  ‘n Dag om nuwe drome te droom;  ou drome te verwesenlik;  nuwe  vriende  te  maak;  met  ou  vriende  te  gesels of te besoek; vreugdes te deel;  ‘n dag  om  ‘n  nuwe  rok  te  gaan  koop; by ‘n onbekende restaurantjie te gaan eet; die  motorwag ‘n  stywe fooitjie te gee met ‘n glimlag daarby; te  gaan  vir ‘n  manikuur; ‘n nuwe lied te sing; ‘n gedig te skryf; ‘n  skrywer te ontdek en ‘n  boek te lees; ‘n berg te klim, ‘n nuwe skildery te begin; ‘n onbekende plek te besoek; na ‘n kunsuitstalling te gaan; ‘n deuntjie te tokkel; ‘n ou fiets op te klim en teen ‘n afdraand af  te  ry; ‘n sieke se hand vas te hou, se voorkop af te vee, se wang te soen; ‘n nuwe produk te probeer; ‘n koek te bak; langs die see te gaan stap; skulpe op te tel; in die son te lê; ‘n roomys te lek; blomme te ruik; a baba se geurtjie te koester, se gladde, nuwe lyfie te troetel…na goeie musiek te luister; ‘n ent in die motor te gaan ry…in die veld te gaan stap.

Dis  ‘n  dag  om  iemand  te  bederf; om  ‘n  glasie  wyn  te skink; die vonkel in iemand se oog te waardeer; om te dans…

Ek vat my hande saam bo my kop, strek my arms na bo,  raak aan die hemel, punt my tone, tol in die rondte, druk my duime en middelvingers saam, draai handpalms na buite, strek … dans, dans voor Hom wat my gemaak het…
Mense  staar  –  wie gee om? Dit is die enigste kans wat  ek ooit  sal  kry  om hierdie  besondere  dag te beleef,  te geniet,  te gebruik,  te deel,  vol te maak met herinneringe wat ek vir die res van my lewe sal kan oproep.

Hierdie dag skryf ‘n strofe in die ode aan die Alleenwyse…ek sal my klanke voortbring, my nederige bydrae lewer, my  dank uitjubel … want Hy is goed en Sy goedheid strek tot in alle ewigheid….

Hoor jy ook die lied van hierdie dag … dans dan saam met my -  dans, dans…..

Thursday, 26 May 2011

Nog 'n dag

Die oggendblad het vanoggend met groot opskrif  aangekondig dat die 2010 Matrieks  vandag  hulle uitslae te sien sal kry…’n waterskeidingsoomblik vir baie wanneer hulle deurstap na die studentelewe of grootmenswêreld  waarin hulle op hulself aangewese sal wees  vir hulle daaglikse brood – dis nou te sê as  hulle  so gelukkig  is om ‘n betrekking  te  bekom.  Vir ander sal dit groot teleurstelling,  miskien selfs  wanhoop, inhou.  Een  jong  vriendinnetjie  wat deur moeilike tye gegaan het  hierdie jaar,  se  ma  het  nou net jubelend  laat weet dat  sy  vrystelling  vir  universiteit  het! Nou  lê  die  toekoms oop voor haar!

Padsterftes op  ons  land se paaie is steeds ‘n bron van uiterste bekommernis. Mense van alle ouderdomme word van hul lewens beroof.

Vloedwaters, asgevolg  van aanhoudende reën, eis  vyf  lewens  in Kwazulu-Natal, en ‘n dogtertjie van net ses jaar oud  verdrink  toe  sy probeer om haar sussie van vier te red. Waar was hulle ouers op daardie oomblik?

Die Bloemhofdam  in die Vaalrivier oorstroom  en  miljoene  rande se skade word  vir die tweede  agtereenlopende  jaar aan talle eiendomme veroorsaak. Hoekom het  niemand  behoorlike navorsing gedoen voordat die eiendomme in die eerste plek ontwikkel is nie?

Gister was die hoogste grade in ons land  aangeteken 42 grade C. in Vreden-dal en die Paarl, Kaapprovinsie. Aardverhitting is meer as ‘n mite.

‘n ANC-hoë se stoflike oorskot is in ‘n bos in Bosbokrand  gevind, nadat  hy  vermoedelik  by  sy  huis deur drie mans oorval is.  Daar  word beweer  hy is verskeie kere geskiet. Ek wonder altyd of dit werklik as die maklikste uitweg gesien word wanneer iemand ‘n moord pleeg.

Nog ‘n man verdrink in die Strand.
 

‘n Foutiewe  valhek by ‘n spooroorgang  veroorsaak ‘n ongeluk. Die motoris is gelukkig om die ongeluk te oorleef.

‘n Renosterkalfie wat einde verlede jaar verdwyn het nadat sy ma in ‘n mis-daad strooptog doodgemaak is, is steeds weg en alhoewel vermoed word dat hy steeds in die  Mafikeng wildreservaat is, kon hy nog  nie opgespoor  word nie. Hoekom sê ons nie “toe sy ma vermoor is deur stropers” nie?

Jacques  Kallis  teken  twee  honderdtalle  aan  in die  derde toets  teen Indië. Sekerlik is hy een van  Suid-Afrika se helde, indien  nie ikone…en definitief iets vir die skonergeslag (hoekom skoner?) om na te kyk…

Drie ouens wat skelm kreef gestroop en na Amerika uitgevoer het, gaan mil-joene  moet  opdok  aan Suid-Afrika vir hul eiegeregtige, kwaadwillige stro-ping van ons seewaters.

‘n Suid-Afrikaanse aktrise word  in  Djakarta, Indonesië, met dwelms betrap en in hegtenis geneem. Wanneer gaan ons leer?

‘n  Amerikaanse  student  het  haar enkel verstuit op Tafelberg en word deur reddingswerkers  op ‘n  draagbaar afgedra na veiligheid.  Sy sal die Berg om meer as een rede onthou.

Internet sal  vanaf 1 Mei 2011 dwarsoor Afrika in vliegtuie beskikbaar wees. Sodat ons  nog  langer  werksure  kan  insit?  Nog minder afskakel van al die dinge wat ons stresvlakke opjaag?

Volgens Open Doors het  die  posisie van Christene wat in die minderheid is in Moslemlande die afgelope jaar baie versleg. Soos gewoonlik hoor ons nie ‘n ‘piep’ uit Christene oor hierdie toedrag van sake nie. Is dit omdat ons ‘die ander wang draai’? Of omdat ‘die liefde alles glo, alles bedek’?

Daar was ‘n  bloedbad in Egipte… herinner  aan die tyd toe die Nyl  in bloed verander het?

Vloede  in  Australië  het ‘n ongekende  skaal  bereik  en  bedreig  die  Groot Koraalrif, terwyl 22 stede en dorpe in Queensland onder water is.
 
Bobby  Farrell, die  hoofsanger  van  Boney M  is oorlede  asgevolg  van  ‘n harttoestand. Sy lyk is  in sy hotelkamer  in St. Petersburg,  Rusland, gevind.

St. Petersburg is ook  die plek waar Tjaikovski en Rumski Korsikov begrawe lê.  Hulle grafte is nog steeds te sien  in ‘n baie ou begrafplaas vir al die Russiese kunstenaars.

Die  Skotse sanger, Gerry Rafferty, sterf  aan  lewerversaking. Hy  was maar 63 jaar oud.

In  Frankryk  is ‘n nuwe  motorradio bekend  gestel wat spoedlokvalle, goed-koper petrol  pryse  en  gratis parkeerplek  vir motoriste  kan opspoor, en kan bel terwyl jy musiek luister. Ek hou van die spoedlokval opsporingsgedeelte. Dit verraai baie omtrent my bestuursgewoontes…

En, en, en…. Dwarsoor die wêreld het elke dag genoeg van sy eie kwaad en darem ook  so  hier  en  daar ‘n  wonderwerkie  of twee wat geskied. ‘n Kind wat gebore word; iemand wat 100 jaar oud word; 60 jaar getroude lewe vier; ‘n nuwe  uitvindsel  wat  ons  almal  se lewens  beinvloed of  hoop  bring vir mense wat andersins net op die dood sit en wag… mense wat na weke onder in ‘n myn gered word…maar meeste  van  die  tyd verloop  ons  lewens  baie eentonig (mooi woord)  aan…dag vir dag… uur vir uur… sodat  ons  nie ag-terkom dat ons uurglas stadig, so stadig,  besig is om deur te loop en ons dae iewers afgetel word en besig is om voltallig te word.

“Three score plus ten… and if you are very strong 80 years”…

Toe  tel  ek  mos  nou die dag: dan het ek ongeveer 2000 dae oor – dis nou as ek tel tot by die “three score plus ten” – skielik  wil ek die horlosie se wysers vasgryp; daaraan hang – sê: “Hei, wag net so ‘n bietjie, maatjies, daar  is nog baie  wat  ek  wil doen. Julle moet nou nie staan en weghol vir my nie… Ho-kaai! Briek aandraai!” Maar hulle steur hulle min!

Nou  sit ek  vanaand  hier op die stoep van ‘n oorvol restaurant, op diè warm Kaapse   someraand,  op ‘n  houtbankie,  langs  ‘n   houttafeltjie,  oorkant  ‘n blonde man met ‘n Namakwalandse sin vir humor en ‘n  snor  waarin die sil-


wer  blink in die lig.  Hy’t ook al,  soos ek, ‘n paar myl gestap deur die lewe; sy drome  gedroom; sy  keuses  gemaak; sy  planne  beraam; sy  mislukkings betreur; sy  suksesse gevier; sy verdriet geleef; sy  foute  oorleef; sy toekoms bedink.

Maar  vanaand sit ons hier. Op die restaurant se vol stoep. Borde geurige kos voor ons.  Hy  lig  sy  hand  van  die  tafelblad… ek sit  my  hand  daarin,  sy vingers  maak  toe, sy  oë  ook  en hy dank die Hoërhand vir dit wat ons  nou  gaan geniet… en  vir nou is hierdie oomblik en God  se  seën op hierdie bord kos vir my genoeg.




Friday, 20 May 2011

Vriendskap

Ek kry netnou ‘n SMS van ‘n vriendin wat sê: “My man weet dit nie, maar ek is Maandag af en ek kom deur Tygervallei toe … stiek jou vir ‘n etetjie!”

Aa, dis ‘n lekkerte om na uit te sien; ‘n groot lekkerte; sommer ‘n paar lekkertes.

Eerstens omdat  dit  sy  is.  Ons is al van kindsdae van  tjommies.  En dis ‘n hegte vriend-skap wat dekades sonder enige argument deurstaan het.

Tweedens omdat ons mekaar voor Kersfees laas gesien het.

Derdens, omdat ons so min sommer op ‘n weeksdag ‘n bietjie kan  wegbreek van die nor-male  roetine.  Sy werk  en  woon  op Stellenbosch,  daardie pragtige Bolandse ‘tuiste van die Maties’ wat  so  knus  tussen die  persblou berge lê,  en  sy  bevind haar nie gereeld in die besoedeling van die groot stad nie.

Vierdens, ons gaan ‘n slag alleen kuier sonder haar man (ek is permanent manloos) en dit op sigself is ‘n groot lekkerte. Nie  dat dit  nie  lekker  is  om  saam  met hulle  te  kuier as manlief  by is nie – ons is ook baie goeie vriende, maar dis ‘n ander soort lekker!

En laaste, maar nie die minste nie, natuurlik die lekker kos!

Wanneer ons twee bymekaar is, haak ons partykeer net so fyntjies uit… Nou nie sò dat die mense rondom ons wat ons nie ken nie, dit sommer sal agterkom nie, maar darem…

Haar man het drie jaar gelede ‘n beroerte  aanval oorleef en alhoewel hy baie goed herstel het in vergelyking met sy toestand onmiddellik na die beroerte,  is daar tog blywende mo-toriese, spraak-, en psigiologiese skade.

Wie weet dat as ‘n dierbare fisies ly, ly die hele gesin en huishouding noodwendig saam?

Daar is ‘n  verskuiwing van verantwoordelikhede.  Die  daaglikse roetine  in die huishou-ding verander;  die  sosiale verkeer  met  vriende word aangepas; die  emosionele verhou-ding tussen man en vrou,  alhoewel dit  mag  verinnig, verander  van  aard en  in wese, na gelang  van die pasiënt se fisiese behoeftes. Daar is ‘n bykomende afhanklikheid. Sou die pasiënt  nie  kan  terugkeer  werk toe  nie,  verander  ook die  finansiële opset en daarmee saam die planne vir die toekoms.

Vir diesulkes  wat hulle in hierdie omstandighede bevind, is die veranderings na die erva-ring van die aanvanklike intense belewenis van, en bekommernisse rondom, die krisis on-afwendbaar en die keuses daaromheen, beperk.




Wanneer jy, as buitestaander,  egter as’t ware deur die vensters van die buitekant na hulle lewens kyk, is die veranderings dramaties om te aanskou.

“For better or for worse” kry nuwe betekenis.

Dis hoekom ek soms ‘n eetdingetjie regkry, in die motor laai en die muggie se snoet in die rigting van Matieland draai.

Dan oorreed ek my maatjie om  weer al die ou liedjies wat ons twee altyd saam gesing het op die klavier te speel en  alhoewel  ons  stembande  skielik eers moet afgestof word voor ons  die  hoë note daar  bo-op die rak kan raakvat, is ons weer jonk en onbesonne en vlieg die aand soos in ‘n oomblik verby,  terwyl lig en klank weer uit die groot, gerieflike dubbelverdieping huis stroom.

Ons lag vir onsself en vir mekaar en vergeet van die sorge van die hier en nou.

En  ons  ryg  die  vertellings  oor  ons dierbare, beeldskone, volmaakte kinders en geniale, beeldskone, hiper-aktiewe kleinkinders soos snoere kosbare pêrels en dra dit met trots en ‘n selfvoldaanheid en verwonder ons dat ons, wat nog sò jonk is, self nog so beeldskoon, geniaal  en  dinamies  is, se  kinders  al  kinders  het… wat het tog van die jare tussenin geword?

Of ons gaan drink ‘n teetjie in die Botaniese Tuine en, verskuil agter groot struike, sit ons op ‘n randsteen langs ‘n wandelpaadjie en ons  huil saam oor dit wat ons verloor het… en loer darem so met die een oog of ons nie dalk vir Valiant Swart hier iewers gewaar nie...

Wanneer ek dan die muggie se snoetjie terugdraai op die spoor na Tafelberg, is die tafe-reel van ons lewens nouer verweef as ooit.

Inbox: “Ek kannie waggie!”

Reply: “Ek okkie – sien jou Maandag!”





Saturday, 14 May 2011

Besoek aan 'n ouetehuis

‘N BESOEK AAN ‘N OUETEHUIS
 

Party se koppe lê na een kant gekantel op hulle willose arms, oë oop, starend. Ander sit en slaap met koppe wat op die bors hang, asof hulle pas die tydelike met die ewige verwissel het. ‘n Ouma sit en brabbel en kyk met verwagting om ‘n reaksie, enige reaksie, van enigiemand te kry.

Diè honger na menslike interaksie in haar oë bring my tot stilstand, maak my hartseer, stom, sodat ek net saggies aan haar skouer raak en omdraai na ‘oupa’ wat stomstil op sy rolstoel voor hom sit en uitstaar met sy vingers op sy knieë oopgesply. As ek hom roep, kyk hy vraend op. Hy hoort nie hier tussen die halfdooies nie. Ek hoort nie hier nie…
 
Ek voel ‘n benouing soos ‘n watervloed in my binneste opstoot sodat ek daarin wil stik. Buite is dit lente. Die spreeus rinkink op die grasperk voor die tehuis tenspyte van die tragiese vertoon van verval van die menslike anatomie en noodwendig gepaardgaande verlies aan menswaardigheid hier binne op die rolstoele, rondom plastiektafels vol plastiekbekers in die ‘sonkamer’ waar die son net vir ‘n kort rukkie elke dag ‘n helder streep gooi. In die hoek van die vertrek kerm ‘n ouma. Het sy pyn of teken sy net haar beswaar aan teen die uitloop van haar uurglas? Langs ‘n ander muur bulder ‘n kolos van ‘n man sy aggressiwiteit uit teen die gevangenis van afhanklikheid waarin beroerte hom ongevraag gekerker het. In die bleekgroen gang skuifel ‘n middeljarige man soos ‘n groot krap moeisaam sywaarts met behulp van twee kieries.

Ek moet selfbeheersing toepas om nie verby hom te druk en in die gang af te hardloop nie. Soveel menslike lyding…Die verpleegpersoneel beweeg uiterlik skynbaar onaangeraak tussen die inwoners deur. Gee hier ‘n bietjie water, gesels daar ‘n woordjie…

So gou as beleefd moontlik vlug ek tog die gang, ‘Langstraat’ soos ma dit noem, af na haar kamer onder in die hoek aan die voorkant van die gebou.  Ek groet en kyk vlugtig by haar kamervenster uit na die pragtige rotstuine, roosbome in volle blom, blou lug daarbuite. Haal ‘n paar maal diep asem. Diep asemteue wat my neus vul met die skerp reuk van ontsmettingsmiddels en urine wat vanaf die gang ingewalm kom. Sug. Draai terug na ma in die kamer. Die kamer is ruim, skoon en netjies. Nuwe enkelbed, nuwe matras, bedkassie. Halfmaan embuia-hout tafeltjie teen die muur met ‘n vaas vol plastiese rose daarop. Plastiese rose wat al vir dertig jaar saam met haar trek, selfs van voor sy en ‘oupa’ ge-troud is.

Voor die venster staan ‘n kassie met die televisiestel op. By die voetenent van die bed staan die yskassie met die mikrogolf oond daarop. Aan die oorkant ‘n gemaklike leunstoel en skinkbord-tafeltjie. Ek wonder skielik of ons persepsie van die lewe nie dalk net so rooskleurig as die plastiese rose is nie – en dalk net so kunsmatig?

Ma sit en geniet die vars gebakte vis en aartappelskyfies wat ek gebring het. Daar wag ‘n wiggie suurlemoentert vir nagereg. Op die tafel staan ‘n bak vrugte. Op die mikrogolfoond ‘n flessie met vrugtegeur suiglekkers en ‘n plak sjokolade, ‘n blik Game koeldrankpoeier, haar pille volgens dosisse vir daaglikse gebruik verpak. Haar pantoffels lê langs die bed, ‘n skoon handdoek en waslap hang oor die reëling, ‘n ligte kombers is oor die voetenend van die bed gedrapeer; daar is ‘n paar tydskrifte in die tydskrifrakkie. Teen die een muur is ‘n vergroting van oorlede oupa en ouma met hul twaalf kinders – ma en haar ses broers en vyf susters. Teen die ander muur is die foto’s van al haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders – haar hele wêreld, vyf geslagte, in een vertrek saamgevat.

Eintlik het sy niks meer, of baie min, om haar oor te bekommer; nie veel meer om te doen nie; geen belangrike besluite meer om te neem nie… baie herinneringe om op te roep… 

Sy het baie gewig verloor die afgelope paar jaar, maar lyk goed vir haar sewe-en-tagtig jaar en vertoon steeds statig in haar wit, geplooide romp, plat wit leerskoene, smaraggroen kortmou baadjie, met die silwer en pêrel borsspeld op die lapel vasgespeld, en haar netjies gekapte haarstyl. Sy is bewerig en kla oor haar senuwees wat op hol is. Sy hoor nie meer goed nie; kan nie meer lank lees nie; sien nie meer goed nie; het geen ander belangstellings nie. Haar huis en tuin was altyd haar lewe en haar trots.

Haar aandete word om halfvyf smiddae na haar kamer gebring. As sy klaar geeët het, was sy haarself in die wasbak in die hoek, trek nog self haar klere uit en nagklere aan, hou stiltetyd, bid vir elke kind, kleinkind en agterkleinkind by naam. Dan kyk sy na 7de Laan en luister daarna na Radio Tygerberg tot presies halfnege. Daarna drink sy haar twee Ativans en warm melk en sit om presies 9.15nm die bedliggie af.

Sy kla dat die personeel haar pla wanneer hulle in die nag die toorts in haar kamer skyn. Die lig van buite pla haar, die geraas van die verkeer pla haar, die radio wat aan is in die kamer oorkant hare pla haar. Die kos is sleg, haar klerekas is te klein, haar wasgoed raak weg en die kerkdienste in die groot sitkamer is baie vervelig en oninteressant.
 
 Nadat ma die die suurlemoentert geëet het, neem ek haar haartangetjie, pluk haar wenk-broue. Ek is versigtig om nie haar kapsel deurmekaar te krap nie. Sy weet self nie hoe sy met haar natuurlike styl, grys hare sal lyk nie – sy het dit nog nooit gesien nie. Ek pluk al die lastige hare op haar bolip, haar ken, haar kakebeen uit, smeer gesigroom mildelik oor haar gesig. Sy het nog nooit grimering of naellak gedra nie – dit is te wêrelds.  Haar hande versorg sy self. Nou week ons haar voete in die voetspa wat sy vir haar verjaarsdag gekry het en droog hulle saggies af. Ook tussen die tone. Dan lê sy bo-op die bed met haar kop op haar nekkussinkie waarsonder sy nie aan die slaap kan raak nie, want anders is haar hare môre deurmekaar.  Haar voete rus op een van haar kopkussings. Pienk kussingsloop. Alles in die kamer is beige, sagte pienk, sagte salie groen.  Ek krap saggies die soolvratte onder haar voete af, sny haar toonnaels, kerf die liddorings (sy dra nog steeds haar hoëhak, punt skoene wanneer sy kerk toe of op besoek gaan), rasper die groottoon knobbels en die hakke met die puimsteen. Ek soek ‘n pleistertjie vir die knobbeleelt in die bedkassie se laaitjie en kom af op ‘n dosie sinustablette.

“En diè? Van wanneer af het ma moeite met ma se sinusse?”
“Nee, dis wonderlike tablette daardie. Tannie Nel het my daarvan vertel. Dit maak nie saak waar ek ‘n pyn het, of hoe neerslagtig of gespanne ek voel nie. As ek net ‘n halwe sinustablet drink, selfs net ‘n kwarte, dan voel ek gou-gou weer honderd persent!”
Geloof, o geloof, watter wonderlike ding!

"Kom ons smeer die voete en bene met die lekkerruik lyfroom…  Aa, klaar!"
 
Noudat sy versorg is, raak sy ongeduldig dat ek moet gaan – al probeer sy dit wegsteek… sy is uitgeput van al die aandag en wil terugkom in haar eie roetine en aangaan met haar dag. Ek maak eers gou seker dat die klere wat sy vir more uitgesit het, skoon is.
“Nou-ja, ma, dan gaan ek eers.”
“Ja, dankie vir al jou moeite, my kind, dankie, dis al wat ek kan sê. Daai twee paar skoene wat ons laasweek gekoop het - ek wil dit nie hê nie. Ek het dit weggegee. Ek het gedink as jy Saterdag kom dan gaan soek ons ander skoene en ons gaan drink ‘n koppie tee iewers…”
Ai, en my bloeddruk is alreeds so hoog…
“Ma moet mooi bly. Ek sal oormôre weer kom kuier.”
“Ag, so lank nog!”
Ek stap uit na my nuwerwetse duifblou motortjie. Die enjin vuur met die eerste draai van die sleutel, die musiekie in die laserskyfspeler begin outomaties speel waar dit laas opgehou het; die lugreëling begin saggies suis. Ek sit haar in rat, trap die versneller, gooi ‘n sierlike draai voor ek die pad vat huistoe … dit bly lekker om te lewe!

                                   Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks….