Sunday 25 March 2012

ROOMYS IN DIE SNEEU IN MOSKOU



Deur die venster van die piepklein kombuisie van die gemeubileerde eenslaapkamer woonstel op die 15de vloer in die noordelike voorstede van Moskou, Rusland, sit ek en verlustig my in die gesig van die sneeu wat daarbuite val en soos witsuikerkorrels buite op die vensterbank pak.

Sjoe! Dis pragtig! Oorkant die straat, in “my” park, lê die sneeu ook reeds wit op die winterkaal gestroopte takke van die mirte bome en kan ek sien hoedat die Russe in hul pelsjasse die paadjies moddertrap op pad na die Richnoi Vaxhall Metro Stantsi ("Rivier Stasie" Metrostasie).

Wat 'n belewenis om dit te mag aanskou! Maar ek wil dit nie net sien nie – ek wil dit op my gesig voel...

Die woonstel het verhitting (alhoewel die eienares die temperatuur binne die woonstel maar koel tot matig hou, hoor!), maar buite is dit volgens die termometertjie wat aan die buitekant van die kombuisvenster hang, so minus 23 grade Celcius! Dus...

Eers broekiekouse... dan “longjohns” - jul weet mos, daai lang, wit onderbroek affêre – wat kan nou meer onvroulik wees - dan sokkies, langbroek, frokkie, langmou toeknoop bloes, lekker dik Suid-Afrikaans gebreide trui, en dan my Russiese jas... en natuurlik ook pels gevoerde stewels en handskoene... en laastens, maar nie minder belangrik... 'n lekker dik pelsmus wat ek oor my ore trek.
Nou is ek gereed vir die sneeu.

Af met die hysbak, tot in die “foyer”, waar die Russiese “baboeshka” my met 'n stywe kopknik groet en 'n aantekening in die boek op haar lessenaar maak... Ek wonder wat sy skryf? Teken sy my uit? Miskien as “Protestant Missioner ot Uznie Afrika”? Of anders Elizaveta Blaauw? Wie sal weet? Ek glimlag vir haar, maar sy ignoreer my glimlag toetentaal... die Russe dink maklik jy het 'n skroef los as jy “onnodig” glimlag of lag!

Wanneer ek die deur na die straat oopstoot, tref die ysige lug my en dit voel letterlik asof ek 'n vrieskas binne gaan. Ek dink op daardie oomblik terug aan my kinderjare toe my ouers onderskeidelik “kamp sekretaris” en “kampkok” was gedurende ons 10 dae Kers-kerkkamp en ek daagliks gestuur is na die groot inloop-yskamer om die groente en vrugte vir my ma te gaan uithaal wanneer sy maaltye berei.

Maar nou, hierdie oomblik, pak die opwinding my beet. In hierdie koue lug, met die sneeu wat op my gesig val, is ek meteens weer 'n kind - vol energie en lewens- en avontuurlus! Die bloed bruis warm deur my are onder al die lae klere en ek moet myself keer om nie hardop te lag en die straat af te hardloop met my arms in die lug nie... wat 'n wonderlike, bevrydende gevoel om so in die sneeu rond te loop. Wanneer ek “my” parkie bereik buk ek om aan die water in die dam te raak, net om uit te vind dat daar reeds oornag 'n yslagie bo-op gevorm het. Nou wat nou van die arme visse? Gelukkig is hulle koudbloedig, dus sal hulle verseker onder die laag ys oorleef!

Die mossies, waarvan daar miljoene in Rusland is, het meesal reeds ge-emigreer na warmer lande, maar so hier en daar sit daar nog enetjie op 'n sneeubelaaide kragdraad! Poskaartprentjie mooi! Soos Kerskaartjie prentjies - behalwe dat die Russe nie tradisioneel Kersfees vier nie - alhoewel hulle darem Nuwejaarsdag vier op 7 januarie en dan is daar 'n reuse Kersboom en Kersvader op die Rooiplein by die Kremlin!

Ek stap aan deur die park en anderkant uit – nou is ek op 'n baie besige straat met motors wat heen-en-weer toeter met hulle spesiale bande vir die yspaaie. Teen hierdie tyd voel die punt van my neus, asook my ken en wange asof ek pas 'n hewige sessie by die tandarts deurstaan het! Yskoud en morsdood gevries en oral is mense besig om wolkies warm asem voor hulle uit te blaas so ver soos hulle loop.

In Rusland is sulke koue wintersdae algemeen – werk en besigheid gaan aan soos gewoonlik en die busse en metro's is soos elke ander dag baie bedrywig. Hier wag jy nie langer as drie minute vir enige metro trein nie en busse is daar by die dosyne!

By die markstalletjies voor die ingang van die metro stansi is dit 'n modderpoel van 'n ander wêreld soos die duisende voete die metrostasie ingaan en uitkom en die sneeu vertrap. Hier en daar sien jy iemand gly en plat op sy/haar rug val, maar niemand neem notisie of verleen hulp nie, want dit is 'n algemene, daaglikse verskynsel en gebeur een of ander tyd met almal, veral as dit een dag 'n bietjie minder koud is en die sneeu wil-wil smelt en dan die volgende dag, wanneer dit weer kouer is, weer verys – dan is dit so glad soos nat glas en moet jy baie versigtig trap! Jy staan maar net op en stap aan as jy so ongelukkig is om te val , en as jy regtig ongelukkig is, val jy more dalk weer!

Die baboeshka's (oumas) wat hulle wares vanuit die stalletjies of vanaf kratte op die sypaadjies verkoop, sit koulik vooroor met gevoude arms en wag vir hulle klante.

Ek sien sowaar nog 'n roomys verkoper! Wonder hoe sal 'n roomys smaak op so 'n koue dag? Daar is net een manier om uit te vind... 'n Russiese heer skud meewarig sy kop en sirkeldraai sy vinger langs sy regteroor om aan sy vriend te beduie net hoè mal hierdie vreemde vrou is wat in die sneeu loop en roomys eet, maar die roomys gaan heerlik koel af in my lyf wat so warm toegebondel is in die lae klere... ek glimlag vir hom en stap aan! Ai, waar is my kinders nou om hierdie petalje te aanskou?

No comments:

Post a Comment